Konsertellendes
Ek is dol oor die Russiese kultuur. As kind was ek meegevoer deur stories oor die geheimsinnige en donker Rasputin, ek het die grootste bewondering vir die dansers van die Kirov-balletgeselskap en is steeds betower deur die onvergeetlike Anna Pavlova en Rudolf Nureyev. Anna Karenina bly een van my geliefkoosde romans.
Soms, in die winter, as dit koud en triestig is en die landskap herinner aan die Russiese steppe, maak ek ’n klein fees met borscht, blinis, en beesvleis-stroganoff.
Toe ek hoor die Russiese pianis Katja Grineva gee ’n klavieruitvoering in Windhoek, was ek in die wolke.
Die aand van die uitvoering breek aan en ná heerlike southappies en vodka lyk alles sjarmant. Die pianis maak haar verskyning, pragtig in ’n sigeunerrok. Sy herinner my aan die karakter van gravin Sofia Belinskya uit The White Countess.
Sy begin sielvol speel – Liszt se transkripsie van Schubert se Ave Maria – hemels! Die wonderskone klaviermusiek spoel oor ons soos ’n droom. Kan die lewe enigsins beter wees?
Dan word die betowering verbreek. Mense hoes en proes, stamp bierbottels om, fluister, maak video’s, ’n kind neul en mense neem beurte om verby die verhoog by die groot houtdeur in en uit te stap. Hoe kon dinge so vinnig van die verhewene tot ondraaglik irriterend gaan?
Grineva begin die Maanlig-sonate speel en ek begin wonder of dit nie beter sal wees om maar uit te glip, die CD te koop en in vrede daarna te gaan luister nie.
Genadiglik ’n pouse, sekerlik gaan die lasposte hulself uitsorteer? Ná die pouse is ons terug. Grineva speel met volle oorgawe, ek bewonder haar dat sy dit regkry deur al die stoornisse. Ons byt vas en geniet tog die wonderlike musiek, ten spyte van sommige lede van die gehoor se gedrag.
Twee vrouens sluit laat aan by die gehoor. Hulle kry nie sitplekke nie, maar ’n galante man in ’n aanpak bied sy stoel vir die ouer vrou aan. Ek is geraak deur die mooi gebaar. Die vrou neem ’n minuut of twee om haar groot inkopiesak en bierbottel te rangskik terwyl sy oorleun en ek veel meer van haar weelderige derrière sien as wat ek graag wou.
Om alles te vererger, moet die klaviermusiek kompeteer met die geraas van mense wat in die kroeg buite die venue begin aankom. Die houtdeur gaan nou met tussenposes van een minuut oop met nuuskierige kroegvlieë wat inloer.
Ná die encore strompel ons deur ’n plas bier uit in die naglug: half bekoor en erg gestres.
Meneer en Mevrou, as jy nie regtig van musiek hou nie, nie langer as een minuut kan stilsit nie, die blaasbeheer van ’n King Charles-spanjoel het en voortdurend moet herkou, is die beste plek vir jou nie miskien jou rusbank voor die TV met ’n skottel katkos au gratin en ’n liter bier nie?

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie