Kommer ná Tyson se bisarre onderhoud

Boks
Piers Morgan se Good Morning Britain word gekritiseer omdat Mike Tyson toegelaat is om ’n bisarre onderhoud te voer waarin dié bokslegende diktong praat en sy kop rol asof hy aan die slaap raak.

Tyson (54) is besig met voorbereiding vir ’n vertoongeveg teen sy 51-jarige Amerikaanse landgenoot Roy Jones Junior volgende maand.

FoxNews berig die voormalige swaargewigkampioen het laataand (Los Angeles-tyd) uit die VSA met Morgan en Susanna Reid gesels en het ooglopend gesukkel. Dit het daartoe gelei dat kykers en aanhangers hul kommer oor Tyson se gesondheid uitspreek.

“Ek wil dit doen, ek beplan om dit vir liefdadigheid te doen (onhoorbaar),” sê Tyson oor die geveg, sy eerste sedert 2005.

“En ek voel ek is daartoe in staat en dit is wat ek wil doen.”

Op die vraag of dit ’n probleem is om in sy 50’s en sonder ’n kopskerm te boks, rol Tyson se kop asof hy aan die slaap raak en hy sê: “Ek dink dit is baie wonderlik dat ons saam boks, die geveg wat ons vroeër moes gehad het, maar ongelukkig gebeur dit nou eers en dit gaan asemrowend wees.”

Gegewe Tyson se lang en ernstige geskiedenis van middelmisbruik, asook sy huidige status as cannabis-magnaat met ’n daggagewoonte van US$55 000 per maand, is daar diegene wat vra of “Iron Mike” tydens die onderhoud onder die invloed was.

Maar Tyson voer aan hy was eenvoudig uitgeput.

“Hey maat,” het hy op Twitter aan Morgan, Reid, Good Morning Britain en alle kykers in die Verenigde Koninkryk geskryf.

“Ek het probeer laat wakker bly vir die onderhoud, maar het aan die slaap geraak en soos ’n leeu is dit moeilik om my wakker te maak sodra ek slaap.”

“Ek oefen hard en klim vroeg in die bed. Ek het nie ’n skerm gehad nie so ek kon julle ouens nie sien nie en ek het vergeet om vir die kamera te kyk.”

“Geen probleem, kampioen,” sê Morgan. “Ons kon sien jy was bietjie moeg! Dit was baie laat in LA. Waardeer hierdie boodskap, want sommige kykers was bekommerd.”

Dit Britse aanbieder Mike Graham sê hy is as ’n medejoernalis “verleë” oor die onderhoud en kap Morgan omdat hy die onderhoud met Tyson openbaar gemaak het.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer