Kombuiswenke: rVan aanpaksels tot avokado's
Kombuiswenke: rVan aanpaksels tot avokado's

Kombuiswenke: Van aanpaksels tot avokado's

Elvira Hattingh
Al ooit gewonder hoe jy ’n ketel vinnig blinkskoon kan kry of hoe om avokado’s ryp te laat word?
Hier volg enkele slim kombuiswenke wat jou huiswerk baie makliker kan maak.

Aanpaksel
Om die aanpaksel in ’n ketel te verwyder, gooi een pakkie of drie eetlepels wynsteensuur by, kook en spoel die ketel uit.
Andersins kan jy ’n derde asyn by twee-derdes water in die ketel gooi. Maak seker die element is bedek en kook die ketel ’n paar keer. Dit maak die ketel onmiddellik skoon. Jy kan ook ’n albaster in ’n ketel gooi. Diegene wat daaraan glo, sê dit veroorsaak dat die albaster die kalk die heeltyd van die kante af loskap.
Het jou kos aangebrand?
Hoe gemaak met die swart brandaanpaksel onder in die potte en panne? Kook ’n bietjie water en asyn saam in die pot. Sodra dit kook, voeg ’n paar eetlepels koeksoda by. Die mengsel sal bruisende lugblasies begin maak. Sodra dit ophou, kan jy die mengsel uitgooi en die pot gewoonweg was – sonder dat jy hoef te skrop.

Aartappel
Ou aartappels moet eerder geskil word voordat dit gekook word.
Plaas die skil ook in die water om die voedingswaarde te verhoog.
Verwyder só aartappelskille sonder ’n skiller. Skil ’n aartappel maklik af deur dit te kook en dit dan ’n ysbad te gee. Die vel sal van die styselkern loskom en jy kan dit dan maklik aftrek.
Gooi ’n eetlepel melk in ’n kastrol waarin jy aartappels kook. Dit voorkom dat dit kleur verloor. Laat aartappels ’n halfuur lank in melk lê om mooi bruin te bak.
Om te verhoed dat aartappels uitloop, bêre dit saam met ’n vars, groen appel.
’n Knippie bakpoeier in kapok­aartappels maak dit sag en lig.
Voeg suurlemoensap by die water as jy ’n aartappel met skil en al kook. Die aartappel sal wit wees en jou potte sonder vlekke.
Sowat 5 ml asyn by die water waarin jy aartappels kook, hou dit ook mooi wit. Jy kan ook 10 ml by die water oor geskilde aartappels gooi om te keer dat dit verbruin.
Gebruik kitskapokaartappels om sous of sop te verdik.

Appels
Gebakte appels sal nie plooi indien jy ’n paar klein snytjies in die skil maak voordat dit oond toe gaan nie.
Appels word makliker geskil indien dit vooraf ’n paar minute lank in kookwater lê.
Appels is goed vir jou vel en die pektien daarin kan glo help om inflammasie te verminder en klein plooitjies beter te laat vertoon. Rasper ’n geskilde appel en gebruik dit as gesigmasker. Hou dit vir 15 minute lank op jou gesig en spoel dan met louwarm water af.

Avokado
Bestrooi avokado’s met meel, draai dit toe in koerantpapier en bêre onder in die oondlaai.
Dit sal gouer ryp word.
Andersins kan jy ’n avokado vinnig ryp maak deur dit heeltemal met meel te bedek. Avokado’s kan ook in ’n vrugtebak tussen ander ryp vrugte geplaas word om gouer ryp te word. Avokado’s sal tot twee weke lank in die yskas hou. Plaas dit in die yskas se groentelaai om ryp te word.
Bronne: algemenewenke.blog­spot.com, www.greatist.com, www.kookkuns.com, toorkombuis.co.za, www.mom4real.com

Kommentaar

Republikein 2025-11-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer