Kom ons ruil vandag se rumoer vir ’n outydse toer
“Kom sit styf hier teen my
Jou kop agteroor
Hoor jy hoe sag val die reën
Die dag is verby
Nog ’n week nog ’n maand
Waar loop die tyd met ons heen?”
So verwoord Laurika Rauch in die mooie Die Nostalgie die heimwee en verlange na iets van vroeër wat gevoelens van melankolie en onthou aanwakker. Volgens die etimologiese oorsprong van die woord, is dit glo afkomstig uit Grieks en is die somtotaal van twee woorde nostos (terugkeer) en algos (droefheid, verlange). Die melankolie na die terugkeer in tyd kom in ’n jaar wat die wêreld op sy kop gekeer is en die ‘nuwe’ normaal meer angs en onsekerheid as vrede en rustigheid bring. Die smag na dae wat jare later nou blyk soveel eenvoudiger en saliger was; gestroop van maskers, sosiale afstand en boeke by winkels waarin jy jou besonderhede vir Allerman moet neerstip net om ’n brood en ’n liter melk te koop.
Onthou jy hoe ver moes ons skool toe stap?
En sou jy my fliek toe vra
Dan moes ons jou tjor aan die brand kry, ek en jy
Ja, dit was die goeie ou dae
Waar is die dae van fliek kyk in die koshuis se eetkamer op Otavi of Kombat se klubhuis? Die eettafels in gelid teen die mure geskuif en die regoprug ‘administrasie’stoele wat jou boude voor pouse lam laat; in rye voor die groot wit laken. In die kombuis maak die rys, vleis en aartappels plek vir ‘popcorn’ en kerriejafels met ’n leksel ‘chutney’ of tamatiesous. Die popcorn word in die staalbakke wat gewoonlik die slaai hou, gemeng met strooisuiker of sout voor dit in papiersakke gestop word. Buiten koffie en tee is daar aanmaakkoeldrank (rooi of oranje) wat óf te flou is óf so suur dat jou kiewe trek in ’n styrofoam-koppie wat jy later, afhangend van die spanning in die fliek, uit verveeldheid al met die rand langs jou tandemerke in los. Gewapen met jou bruinpapiersakkie soek jy die stoel die naaste aan die paadjie of die wit doek. Voor is ook goed, want dan lê jy sommer maaglangs en fliek. As die rolprentrolle begin tjir-tjir, tel almal kliphard in afwagting op die begin van die fliek... 10, 9, 8, 7... Ek onthou die naam Voortreflike Familie Smit, maar het geen herinnering waaroor dit gegaan het nie. Ook ’n rolprent van Jesus se kruisiging wat my jong gemoed vir weke getraumatiseerd gelaat het en my heimlik saans laat bid het “Asseblief Liewe Vader, moenie so lief wees vir my nie.”
My held was Elvis, my Elvis
My “Heartbreak Hotel”
Toe jy nog vir my met
‘n Tiekie kon bel
Kom ons klink ‘n rooi glasie wyn
Op ons skete en pyn
En gee ons oor aan die nostalgie
Kombat se flieks was nou wel nie ’n dagreis ver nie, maar dit was ’n uitstappie na ’n ander dorp. Voor die tyd is klaar gebad en nagklere en pantoffels aangetrek en die slaapsakke, komberse en kussings is ingepak. Dit is nou om saam met die ander kinders soos sardientjies geblik voor in die saal te lê. Die lekkerste was as jy aan die slaap raak en Oupa Lag moet jou kar toe dra en jy hoef nie die hek by die huis in die donker oop te maak nie. Grensbasis 13. Die Winter van 14 Julie. Laasgenoemde was ietwat omstrede vir die tyd, want dit het immers voorhuwelikse geslagsomgang en ’n ongehude moeder in die verhaallyn gehad. ’n Vriendin van Ouma Vlam verduidelik dit so: “Die man en die vrou het saam op die bed gelê en toe tree daar komplikasies in.” Al wat ek onthou, is dat Martin Dreyer wat die hoofrol speel van die man in die weermag wat vir die komplikasie verantwoordelik is, vir my mooi was. En dat ek my pylsterthare so graag net soos Karin Scholtz wou ‘blow dry’.
Die kiekies is dof
Die album vol stof
Kyk … hier bak ma haar beskuit
Daar stamp Stephanus vir Mien in die dam
O hoor jy die wind teen die ruit?
Later met die verhuis na die stad was dit die inry se beurt. Vroeg reeds is die roomysbak met jafels gepak, die koffiefles met die soet koffie spesiaal gemaak met Cremora om langer warm te bly en die bekers gepak. Slaapsak, kombers en kussing. As dit ’n Afrikaanse fliek was, moes jy skuins voor 18:00 al in die pad val en dan staan die ry karre al doer ver. Die Eensame Vlug. Debbie. Hans Strydom en Sybil Coetzee.
Die kindergesiggies, die sterre se liggies
Laat jou van voor af onthou
Ou vriende is dood
Die kleinspan word groot
Kyk net waar staan ons nou
Kom ons ruil vandag se rumoer vir ‘n outydse toer

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie