Kom ons gaan kamp, u00f3f nie
Kom ons gaan kamp, u00f3f nie

Kom ons gaan kamp, óf nie

[email protected]
Yandi Du Plessis
Mariselle Stofberg

Ek is ongelooflik lief vir die natuur, en al kamp ons gesin nie so baie nie, was ek nog nooit teen die idee gekant nie.

In wese is kamp ’n fees. Behalwe as jy dit in die winter doen en jy is op geen manier vir die koue voorberei wat jou tot in jou kern sal vries nie. Dan verloor kamp al sy genot.

Ek was onlangs die gelukkige wenner van ’n winter-kampeersessie, vir werkdoeleindes natuurlik.

Ons is aangesê om voorberei te wees, want “dit kan nogal koud raak”. Nogal. Nooit weer sal ek só ‘n waarskuwing ligtelik opneem nie. Jy kan nie eens die woord “koud” gebruik om dit te beskryf nie, want dit laat koud soos ‘n dag in die Namibwoestyn lyk.

My koud het koud gekry. Die dag kon jy nog oorleef. Maar die nagte! Vreeslike dinge gebeur in die nag.

Mariselle pak toe haar lekkerste warm slaapklere en ’n paar baadjies in. Die tassie staan mooi netjies (of kom ons wees eerlik, redelik netjies vir kamp) langs my bed.

Elkeen van ons het so twee kombersies gekry. Twee. Een kan jy in ‘n ander lewe beskryf as effens warm, maar selfs hierdie kombersie was nie op die nagte voorberei nie. Die tweede kombersie het ons as die tronkkombersie beskryf. Al steek jy hom aan die brand sal hy nóóit warm raak of maak nie.

Ek het so ’n stoute lelike groen warm kombers ingepak, en mense het gelag vir Mariselle met al haar bagasie. Maar wie lag toe?

Nie ek nie, as jy dalk so gedink het, want ek het nog stééds koud gekry. Ek het vinnig ’n paar lesse tydens die kampsessie geleer.

Jy drink niks voor jy gaan slaap nie. Jou blaas kan onder geen omstandighede enige vloeistof inkry nie, want dit is nie ’n opsie om in die nag op te staan om toilet toe te gaan nie.

Jy draai ook onder geen omstandighede in die aand om nie. As jy draai, kom die koue in, en dan is dit verby. Al pyn jou skouer en is jou been lam, jy draai nie om nie. Soos jy gaan lê, só sal jy opstaan.

Jy leer ook om die geluid van tande wat klap te waardeer, want darem weet jy jou tentmaat deel in jou pyn. Jy is nie alleen nie, wat ’n bietjie vertroosting bied. Ek het deur die nag so uit my tas begin klere aantrek. Nog ‘n broek. Nog ‘n paar sokkies. Nog twee hemde en twee baadjies. Drie mussies. Al die onderklere in my tas, sommer bo-oor my broek en hemp. Enigiets om te help met die koue.

Ek het die eerste nag nie ‘n oog toegemaak nie, want die koue was te veel. Toe kom die tweede aand en ek loop my Moses teë. Die kampeerplek bied toe warm sjokolade die aand aan. Mariselle kan nie “nee” sê nie, en drink sommer vier koppies. Dit help darem vir die koue.

Waarvoor dit nie help nie, is jou blaas. In die middel van die nag skrik ek met geweld wakker, want ek besef ek het nie meer tyd oor nie. Dit is nou of nooit. Ek kry nie my bril nie, maar ek het ook nie tyd vir soek nie.

Ek probeer die tent se ritssluiter oopruk, maar dit was seker gevries. Ek kry ‘n klein stukkie oop en om een of ander duistere rede glo ek ek sal daardeur pas. Halfpad deur besef ek ek sit vas. In die middel van die nag, met my vol blaas en mengelmoes van klere sit ek in my tent se ritssluiter vas. Ek weet nie of ek moet lag of huil nie.

Ek wikkel-wikkel en kry myself uiteindelik los. Ek val uit die tent en met sokkies en geen bril hardloop ek badkamer toe. Ek moes soos iets uit ‘n riller gelyk het, en heel pad bid ek net dat meneer jakkals of leeu of slang tog net nie my knypers verder moet beproef nie, want sou iets nou opduik, sal ek dit nie maak nie.

Ek maak dit net betyds, maar die stryd om my hele tas se klere van my lyf af te kry, was geen grap nie.

Ek besef ook al die hitte wat ek probeer bymekaarskraap het, is heeltemal weg. Niks sal my nou meer help nie. Ek kan nie eens huil nie, want die trane sal teen my wange vries.

Ek loop terug tent toe, deur die sand en bos met my sokkies aan, en staan vir ’n minuut voor die tent en bewonder die feit dat ek my hele lyf deur daardie klein gaatjie gekry het.

Die lank en die kort: Om in die winter te kamp, is nie vir sissies nie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer