Koevertkultuur u2019n u2018virusu2019
Koevertkultuur u2019n u2018virusu2019

Koevertkultuur ’n ‘virus’

As die koevertkultuur wat ontwikkel het, nie stop nie, sal Afrika nooit op sy eie voete kan staan nie, sê ’n sakemagnaat.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Korrupsie is ’n virus waarmee Afrika ingespuit word en wat die vasteland vernietig.

Só het die sakemagnaat en voorsitter van die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) se tak op Ongwediva, mnr. Ben Hauwanga, gister die eerste jaarlikse konstruksiekonferensie begin.

Om sy punt te verduidelik, het hy drie vroue saam met hom op die verhoog laat staan: Een van Afrika met ’n mandjie vrugte, die ander van Amerika of ’n Europese land met ’n handleiding vol kundigheid en die laaste een van “die land wat ons almal ken” met ’n koevert vol geld.

Hierdie vroue doen almal aansoek vir ’n tender.

“Ons moet opstaan en die waarheid in die gesig staar. Dít is hoe Afrika deur sommige lande behandel word,” sê Hauwanga.

“Die wêreld lag vir ons.”

Hauwanga, beter bekend as BH, is een van nege kinders van ’n enkelma wat as ’n huishulp gewerk het. Sy liefde vir besigheid het begin toe hy as seuntjie inheemse kos vir sakgeld verkoop het. Hiermee het hy lekkers gekoop wat hy teen ’n wins verkoop het. Op nege het hy in tuine begin werk sodat hy ’n weeklikse loon kon verdien.

Sy eerste “winkel” was ’n kartondoos.

Uiteindelik kon hy ’n motoronderdelewinkel op Ongwediva begin.

Vandag besit hy die BH-groep van maatskappye en strek sy sakeryk oor verskeie streke in Namibië en Angola.

Mentaliteit

“Ons kan praat. Ons kan konferensies hou. Maar as ons nie ons leiers se mentaliteit verander nie, gaan ons Afrika nie verander nie,” het Hauwanga gister gesê.

God het Afrika nie met korrupsie geskep nie. Sy mense is nie in korrupsie gebore nie. As die koevertkultuur wat ontwikkel het nie stop nie, sal Afrika nooit op sy eie voete kan staan nie, sê hy.

“Ons moet onder-die-tafel betalings vermy. Met dié mentaliteit sal ons Afrika nooit opbou, nooit verander nie.”

Die mense van die “land wat ons almal ken”, neem konstruksie oor, sê Hauwanga.

“Hulle kom met klein koevertjies, maar gaan met groot koffers vol geld.”

Die ineenstorting van konstruksie geld net vir Namibiërs, nie vir diegene wat met koeverte kom nie.

“Daar is groot werkverliese weens dié koeverte,” sê hy.

“Ons leiers in Afrika moet opstaan en sien wat aangaan. As hulle nie opstaan nie, gaan ons kinders wéér vir Afrika moet baklei.”

Leiers moet Afrikane weer trots op Afrika maak, sê Hauwanga.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer