• Tuisblad
  • Sport
  • Koes Proteas en Kraanvoëls, hier kom die Juwele!
Koes Proteas en Kraanvou00ebls, hier kom die Juwele!
Koes Proteas en Kraanvou00ebls, hier kom die Juwele!

Koes Proteas en Kraanvoëls, hier kom die Juwele!

Die Namibiërs het reeds verklaar dat hulle die wêreld baie ongemaklik wil maak vir hul hoër gerekende teenstanders.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Die Debmarine Desert Jewels sal sommer vanuit die staanspoor die ambisieuse voorspellings van hul afrigter, me. Julene Meyer, wil gestand doen op dag een van die Spar-Uitdaagreeks in Kaapstad.

Namibië se nasionale netbalspan stap vandag om 09:30 op die baan vir hul eerste toets by die Kaapstad Konvensiesentrum teen Suid-Afrika se Proteas.

Dit is die Juwele se eerste inter­nasionale kompetisie sedert 2019, toe hulle op verrassende wyse in Singapoer die MI-Sesnasiestoernooi teen gerekende teenstand ingepalm het.

Die Proteas word tans vyfde en Uganda sewende op die Inter­na­sionale Netbalfederasie (INF) se wêreldranglys gereken.

Meyer het dié twee spanne reeds in onlangse ­media-onderhoude beskryf as vrugte wat laag hang en reg is om gepluk te word.

Namibië se huidige 23ste posisie is reeds veel beter as tydens die stringe teleurstellende uitslae voordat Meyer as afrigter aangestel is, maar dit weerspieël steeds nie hul ware talent nie, sê dié voormalige Proteas-speler, wat ook tevore vir Noordwes en Tuks afgerig het voordat sy in die suide van Namibië begin boer het.

Verskeie waarnemers reken Meyer en haar afrigtingspan verrig wondere.

“Covid-inperkings het ons geweldig gekortwiek. Die Jewels kon sedert ons besoek aan Singapoer in 2019 nie weer teen internasionale teenstand speel om ons ranglysposisie verder te verbeter nie. Ons het laasjaar November met voorbereiding vir die Spar-uitdaagreeks begin,” het Meyer gister tydens 'n aanlyn mediakonferensie in Kaapstad gesê.

“Ons het elke moontlike instrument gebruik om die spelers gereed te kry. Behalwe hul krag, kondisionering en fiksheid, het ons ewe hard aan hul geestelike taaiheid geskaaf.

“Die gees is goed in ons kamp, met die spelers wat geweldig daarna uitsien om hulself teen die Proteas en die She Cranes te meet. Ons het 'n goeie mengsel van ­ervaring en jeug in elke posisie en wil graag ondervinding in die kompetisie opdoen.

“Namibië is tans 23ste op die internasionale ranglys, maar die rede hiervoor is nie 'n gebrek aan talent of spelers nie, maar bloot die tekort aan geleenthede om onsself teen internasionale topspanne te bewys.

“Ons wil graag dié kompetisie gebruik om te verbeter en op die INF-ranglys te vorder om vir die 2023 wêreldkampioenskap hier in Kaapstad te kwalifiseer, asook vir volgende jaar se Statebondspele wat basies om die draai is.

“Dit is vir ons belangrik om onder die toptwaalf lande in te beweeg en die wêreld te wys wat in ons spelers steek.”

Dorette Badenhorst, hoofafrigter van die Spar Proteas, sê daar kort 'n handvol van haar sterre wat tans nie beskikbaar is nie en in die buiteland speel. Badenhorst meen nogtans sy het genoeg ammunisie om Namibië en Uganda op hul plek te sit.

“Ek sal die kans gebruik om spelers te toets wat vir die senior span aan die deur klop. Die ervare spelers is altyd bereid om die jonger en onervare meisies touwys te maak. Die gemoedstoestand in ons kamp is uitstekend,“ het sy gesê.

Stella Oyella, kaptein van Uganda, is begeesterd oor hul span se kanse.

“Ons is reg om te speel. Ons wil net op die baan gaan!” het sy entoesiasties gesê.

Namibië sal tot 31 Maart in drie toetse elk teen Uganda en die Proteas meeding.

Vandag se botsing begin om 09:30 en alle wedstryde word regstreeks op SuperSport (Variety 4) vertoon.



Die Namibiërs se wedstrydprogram

Vandag: 10:00 Suid-Afrika tn Namibië.

Vrydag: 18:00 Uganda tn Namibië.

Saterdag: 18:00 Suid-Afrika tn Namibië.

Sondag: 10:00 Uganda tn Namibië.

Maandag: 18:00 Uganda tn Namibië.

Dinsdag: 18:00 Suid-Afrika tn Namibië.

Woensdag: 14:00 Namibië tn SA Presidentspan.

Kommentaar

Republikein 2026-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer