Koelkoppe vir 'n besige jaar
As die begin van die jaar enigiets is om op te gaan, lyk dit of die poppe behoorlik gaan dans vanjaar.
Die hoofstad was gister in chaos gedompel. Verkeer het opgedam in die sentrale sakegebied met die politieke jaar wat afgeskop het met die gesamentlike opening van die twee parlementêre huise.
Alle paaie naby die parlementsgebou was afgebaken en verkeer word herlei op paaie waar waterpype vir 'n dors stad aangelê word.
Intussen het die sogenaamde grondloses in Zoo Park bymekaar gekom onder groot polisiebewaking, waar hulle van vroegoggend af gewag het op 'n afgevaardigde van die parlement om hul petisie oor voorvaderlike grond te ontvang.
Verder op in die stad by die ingang van Staatshuis het joernaliste in woordewisselings met sekuriteitsbeamptes gewikkel geraak omdat hul name nie op 'n lys was om ingelaat te word vir die opening van die eerste kabinetsvergadering van die jaar nie.
Dit was 'n woelige dag en kan gesien word as die woelinge van 'n florerende demokrasie waar mense op die strate uitgaan en deelneem aan die diskoerse van die dag.
Ek dink byvoorbeeld aan 'n besoek aan Indonesië 'n aantal jare gelede. Ons het deur die baie besige strate van Djakarta in 'n bussie met plaaslike joernaliste gery. Hulle was vreeslik in hul noppies elke keer as daar een of ander betoging langs die pad was.
“Kyk,” het hulle trots gesê ná die Suharto-outokrasie, “ons het nou demokrasie! Ons kan betoog vir enige ding.”
Natuurlik is daar steeds baie uitdagings vir die Indonesiese demokrasie, maar die mense is trots op dít wat hulle tot dusver bereik het.
In Namibië is ons natuurlik ook baie trots op die vryhede wat ons vandag geniet en hoe ons in die wêreld as een van die sprekende voorbeelde van 'n opkomende Afrika gesien word.
Ek dink aan een van die vele staatsbesoeke van Chinese regeringslui.
Een van die besoekers was baie beïndruk toe hulle verby die gejubel van 'n sportbyeenkoms by Windhoek Hoërskool gery het na die kantoor van die eerste minister. Hy het opgemerk dit is 'n aanduiding van 'n gesonde, diverse en groeiende demokrasie in Namibië.
Daar is egter ernstige skuiwergate in ons ontluikende demokrasie - soos die stambotsing op Keetmanshoop die afgelope naweek.
Mense vra onder mekaar hoe so 'n betreurenswaardige en kommerwekkende voorval so vinnig kon opvlam. Was dit georkestreer? Was dit 'n spontane uitbarsting? Wie sou so iets met opset bewerkstellig? Waar het die knopkieries, spiese, en “ander wapens” so skielik vandaan gekom?
Ons sal almal koelkop moet bly, want hierdie jaar gaan polities intens wees.
Ja, daar is baie irritasies, soos kontanttekorte terwyl tenderskelms en hul maters hul sakke volstop.
Ja, ons is almal baie kwaad oor die aanslag op ons renosters, olifante, minerale en nou die arme ou donkies ook.
En ja, ons word kwaad vir mekaar oor verskeie dinge. Ons moet egter onthou dat hierdie ons land is wat ons verkieslik met mekaar in vrede wil deel eerder as om soos marionette vir ander rond te spring.
Baie mense is moeg en moerig en die pot is aan die prut.
Soos die Engelse sê: “We must speak truth to power.”
Maar dit is ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat die Namibiese smeltkroes nie oorkook nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie