Koebaai, huisie by die see
Die meeste mense wil ‘n huisie by die see hê.
Tot digters en sangers raak huilerig daaroor. Nie ek nie. Nie meer nie.
1 155 dae se woon op Swakop het vir my een erge vitamien D-tekort gegee, wat gelei het tot morbiede melancholie en vetsugbagasie – 30 kilogram in drie jaar s’n om presies te wees. Mooi, ronde getalle om te pas by die aartappellyf. Trooskos is ’n duiwel.
“Gaan ry fiets,” sê ek op dag een vir die kind.
“Ek kan nie; dis te plat hier.” Sy is reg. Dis verbysterend plat. Net een behoorlike heuweltjie op die hele dorp, drie regte bome en sewe palms in die hele buurt. En 25 vierkante sentimeter se gras. Die kwaai buurman s’n.
Ek is nie kwaad vir die lieflike kusdorp met sy duine teen die see nie. Of vir sy avontuurtoerisme-aktiwiteite wat ek nie kan bekostig nie. Of die kwyl-konditoreis en allerlei ander dodelike versoekings wat moet opmaak vir die alleraaklige weer nie. Ek kan net nie meer daar asemhaal vir langer as ‘n week nie. Dis ‘n vakansieplek, nie ‘n blyplek nie.
“Dis mistig, kom ons eet iets.”
“Kry jou parka en ’n duvet dan gaan steier ons langs die see . . . of kom ons eet liewer iets en kyk ’n moewie. Die wind is te erg, ons sal oorpyn kry.”
“Gaan ry tog fiets, al is dit plat. Ry net ver – Henties toe en terug. O wag, die ketting is geroes - op dag twee al.”
“Ek dink ek kry arc eyes van die skreeuwit lig – kom ons kruie Arandis toe om son te sien. En blou lug. En ‘n berg.”
“Dis steeds mistig. Kom ons eet iets.”
“Hoe lank is hierdie plek se winter? Tien maande non-stop? Dis dan al November. Kom ons eet iets.”
“Pak, ons trek terug Windhoek toe.”
Ek het nie altyd so oor Swakop gevoel nie. As kind het ek met die eerste Desembervakansie daar verlief op die plek geraak. Ook my true love ontmoet. Altyd gedroom ek gaan eendag daar bly. En dan sal ek en hy betraand in slow motion na mekaar toe hardloop op die goue strand, terwyl seemeeue madrigale krys en die son op ‘n blink toekoms sak.
Dit het toe nooit gebeur nie. Meneer True Love het so oor die jare in true disaster verander. ‘n Windbol met ‘n matrooshart en ‘n drankprobleem. Soms sê Jesus nee. Dankie tog. Dit het ek darem lank voor die Swakop-trek al agtergekom.
Alle drome oor Swakop is opgepak saam met die terugtrek hoofstadwaarts.
Met apologie aan die digter H.A. Fagan: Ek het ’n huisie by die see gehad. Dit was nag.
Ek hoor steeds aaneen, aaneen die golwe eggo weerklink teen die muur van die munisipale bungalows wat oorkant my ou huisie staan, met al die grougroen oseaan se woeste krag.
Ek hoor steeds die winde huil – ’n kreun, ’n klag, soos van verlore oorgewig siele in hul kamma honger, al dwalend, klagend, wat in graf en dood en mis en koue en non-stop roes en klam klere en beddegoed geen rus kon vind nie, maar nog soek en smag na 'n vergete lyf wat nie die skaal gekraak het nie.
My vuurtjie brand nou weer in Windhoek, my kersie en welkom terug-lantern gee hul lig.
Ek sidder met die onthou van die Swakop-storms se loei daar buite.
Ek hoor hoe ruk die reënwinde nou aan my ruite en glimlag; hier binne is dit veilig (maar ook heeltemal te warm en benoud oor wolke vol leë beloftes).
Kom Windhoek se herfs, kom weer en lekkerruikwind, bly weg yskoue Atlantiese Oseaan waarin ek nooit kon baai nie, net ‘n blitsige toon indruk.
Dit is ’n verskriklike steil bult waarop my huisie nou staan.
Maar dis oukei, want nou kan ek daarteen die kom-ons-eet-iets hygend wegbeur.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie