Koch kry agt jaar vir kinderhandel
‘n Inwoner van Swakopmund is skuldig bevind aan die huisvesting van minderjarige kinders vir seksuele uitbuiting en tot effektief agt jaar tronkstaf gevonnis.
Bertus Koch (41) is skuldig bevind aan vyf aanklagte wat verband hou met die huisvesting vir seksuele uitbuiting van vyf minderjarige meisies tussen die ouderdomme van agt en 13 jaar tussen November 2015 en Mei 2016 in die DRC-informele nedersetting in Swakopmund.
Koch is ook op vyf alternatiewe klagte skuldig bevind wat verband hou met die bepalings van die wet vir die bekamping van onbehoorlike en immorele praktyke. Hy het die vyf meisies aan pornografiese materiaal blootgestel, voor hulle ontklee en ook homself aan die meisies ontbloot.
Volgens getuienis wat in die hof gelewer is, het Koch die minderjarige meisies met die belofte van kos en lekkers in sy huis gelok. Hy sal sy tronkstraf in die Windhoek Sentrale Gevangenis in Windhoek uitdien waar hy sedert sy inhegtenisname in 2017 aangehou is. - Nampa
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie