Kobi moet wag tot Januarie
Kobi moet wag tot Januarie

Kobi moet wag tot Januarie

‘n Kersfees agter die tralies lê vir Alexander voor aangesien sy vonnisoplegging nie meer op 16 Desember plaasvind.
Jo-Mare Duddy Booysen
Estelle de Bruyn - Die Amerikaanse miljoenêr, mnr. Jacob (Kobi) Alexander, wat in ’n gevangenis in New York toegesluit is nadat hy hom vroeër vanjaar aan die Amerikaanse owerheid oorgegee het, sou verlede Vrydag gehoor het watter vonnis hy moet uitdien.

Die hof waar hy teregstaan het op 2 Desember aangedui dat dit nog nie gereed is om uitspraak te lewer nie. Alexander sal nou tot 25 Januarie moet wag om te hoor hoe lank hy nog agter tralies sal wees.

Alexander het tien jaar in Namibië gewoon en alle pogings beveg om hom uit te lewer. Hy het vroeër vanjaar in ‘n verrassende stap aangedui dat hy gereed is om na Amerika terug te keer en tereg te staan op twee van die 35 klagte teen hom.

Alexander is die voormalige voorsitter en hoof uitvoerende beampte van Comverse Technology.

Hy is op 8 September 2006 vir die eerste keer in Namibië in hegtenis geneem nadat hy, kort voor hy in Amerika in ‘n staat van beskuldiging geplaas kon word, via Israel na Namibië gevlug het.

Amerikaanse staatsaanklaers het veelvuldige kriminele klagte wat uit beweerde terugdatering van aandeelopsies en omkoopfondskemas (“slush fund schemes”) tussen 1998 en 2006 spruit, teen Alexander aanhangig gemaak.

Hy is ook van sameswering, twee klagte van effektebedrog, agt klagte van valse verklarings aan die effekte- en aandelekommissie, vier klagte van posbedrog, veertien klagte van elektroniese bedrog en drie klagte van geldwassery aangekla.

In die klagstaat word ook geëis dat nagenoeg US$138 miljoen van Alexander se bates verbeurd verklaar word.

Comverse, die pioniers van klankboodskappe op selfone (“voicemail”), was tydens die hoogtepunt van die tegnologiese oplewing die liefling van Wall Street, maar ná die Alexander-saga aan die lig gekom het, was dit van die eerste maatskappy wat in federale ondersoeke na aandeelopsiebedrog ondersoek is. Twee topuitvoerende beamptes het skuldig gepleit.

Comverse Technology het tot 2013 oorleef, toe dit deur ‘n voormalige filiaal, Verint Systems, uitgekoop is.

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer