Kobi Alexander pleit skuldig
Kobi Alexander pleit skuldig

Kobi Alexander pleit skuldig

New Yorkse hof weier borgtog
Estelle de Bruyn
Die beskuldigde stigter van ­Comverse Technology, Jacob (Kobi) Alexander, wat vir tien jaar in Namibië gewoon het, het verlede week in ’n New Yorkse hof op een klag van effektebedrog skuldig gepleit.
Alexander het vroeër by monde van sy regspan aangedui dat hy bereid is om uit Namibië na Amerika terug te keer en op die klagte teen hom tereg te staan.
Aanklaers in die federale hof in Brooklyn het Woensdag gesê Alexander se verblyf in Namibië was ’n duidelike poging om vervolging vry te spring.
Regter Nicholas Garaufis het nie borgtog toegestaan nie. Hy sê Alexander se "intelligensie en listigheid" is ’n duidelike aanduiding dat hy nie vertrou kan word nie. Alexander is na ’n maksimum sekuriteit gevangenis gestuur, waar hy tot sy vonnisoplegging op 16 Desember aangehou sal word.
Ná die regter se beslissing het Alexander se hoofregsverteenwoordiger, Benjamin Brafman, aan die Amerikaanse uitsaaier, Consumer News and Business Channel (CNBC) gesê: “Ons is bitter teleurgesteld met die regter se beslissing, maar hy is die regter en nie ek nie.”
Regsverteenwoordigers vir die verdediging het geargumenteer dat hy tot sy vonnisoplegging op borgtog van US$25 miljoen vrygelaat moet word. Brafman het in hofstukke gesê Alexander is nie ’n vlugrisiko nie.
“Dit sou vir mnr. Alexander sinneloos wees om Amerika toe te kom om skuldig te pleit nadat hy tien jaar in Namibië gewoon het, net om op die vlug te slaan,” het Brafman gesê. “Hy kon vir altyd in Namibië gebly het.”
Alexander en sy familie het in Julie 2006 na Namibië verhuis terwyl aanklaers besig was met voorbereiding vir ’n omvattende bedrogsaak wat uit 35 klagte bestaan het.
Brafman het geargumenteer aangesien Alexander Amerika verlaat het voordat hy aangekla is, hy nie gevlug het nie. Aangesien hy Namibië nou verlaat het, het hy nêrens anders om heen te vlug nie.
Aanklaers het egter ’n ander prentjie geskets. Hulle sê Alexander is “slinks en vindingryk” en daarom moet hy sonder borgtog aangehou word. Andersins, sê hulle, sal hy “sy volgende Namibië” vind, indien hy dit sou verkies.
Garaufis was van die begin af die regter in die Comverse-saak. Hy was ook die een wat in 2006 die oorspronk­like lasbrief vir Alexander se inhegtenisneming onderteken het.
“Spaar my,” het hy in ’n verhefte stemtoon gesê toe hy borgtog geweier het. “Ek is nie gister gebore nie.”
Alexander se regsgeleerdes het nie aangedui of hulle appèl gaan aanteken nie. CNBC

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer