Klubs speel sewes by Wanderers

Unam en Kudus sal weens omstandighede nie mededingers vir die prysgeld wees nie.
Andrew Poolman
Die rugbyklub FNB Wanderers, as deel van sy 100-jarige bestaansvieringe, bied môre en Sondagoggend 'n sewestoernooi by sy veld in Pionierspark aan.

Die bekerwenner se beloning van N$13 000 is die groot prys waarop elke deelnemende span sy oog sal hê. Die naaswenner word met N$4 000 getroos, die plaatwenner met N$2 000 en die verloorspan in die plaateindstryd met N$1 000.

Die onttrekking van FNB Universiteit van Namibië het organiseerders gister nog gedwing om 'n paar wysigings aan die program aan te bring. Die studenteklub se deelname was glo vroeër reeds onseker vanweë 'n klompie beserings wat vroeër die maand opgedoen is by die United tienmantoernooi, wat deur FNB Western Suburbs gewen is.

Toe die NRU die huidige nasionale oefengroep se spelers ook nie vrystel nie, het Unam klaarblyklik gesukkel om sy spanne na behore vol te kry.

Grootfontein, wat opgewonde is om vanjaar in die NRU premierliga mee te ding, het twee spanne ingeskryf, terwyl die kusstreek net deur Sparta van Walvisbaai verteenwoordig word. Vir werkende spelers was die twee speeldae in Windhoek waarskynlik te veel gevra om Kudus se deelname moontlik te maak.

'n Span uit die Noord-Kaap (Upington en Kuruman se wêreld) het onder die naam Duka ingeskryf, terwyl die Barbarians die vierde span van die gasheerklub Wanderers is.

Die deelnemende klubs is soos volg gegroepeer:

Groep A: FNB Wanderers I, Suide Knights I, Sparta I, United II, Rehoboth II.

Groep B: Rehoboth I, Reho Falcon I, Grootfontein I, Western Suburbs II, Wanderers III.

Groep C: FNB Western Suburbs I, Vipers I, Wanderers II, Reho Falcon II, Suide Knights II.

Groep D: Trustco United I, St. Lou, Duka I, Barbarians, Grootfontein II.

Wedstryde begin môreoggend om agtuur en duur voort tot die laaste vir die dag om 18:50.

Sondag hervat die laaste groepwedstryde weer om agtuur. Die bekerafdeling se kwarteindstryde begin om 12:20, met die semifinale om 15:50 en 16:10.

Die plaatfinaal is Sondag om 17:20 en die bekerfinaal twintig minute later.

Kommentaar

Republikein 2025-05-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer