Klubs soek uitkoms by nuwe tuiste

Die NFA se Topvlakliga het die deurslaggewende meerderheid klubs aan sy kant.
NAMPA
Tien uit die sestien sokkerklubs wat by die Namibië Premierliga (NPL) geregistreer was, het Maandag hul NPL-lidmaatskap prysgegee om by die ongebore Topvlakliga (Top Tier League) van die Namibiese Sokkervereniging (NFA) aan te sluit.

Lukas Nanyemba, verteenwoordiger van die tien klubs, het op 'n nuuskonferensie gesê dié klubs ressorteer nou amptelik onder die NFA-vaandel.

Black Africa, Blue Waters, Civics, Citizens, Mighty Gunners, Orlando Pirates, Tigers, Young African, Young Brazilians en Julinho Sporting het almal die NPL vaarwel toegeroep.

“Die NFA het die NPL-klubs genooi om vir lidmaatskap by die NFA se beplande Top Tier League (TTL) aansoek te doen.

“Tien het positief gereageer en is deur die NFA aanvaar. Volgens artikel 10.3 van die NFA se reëls en regulasies moet klubs aan sekere standaarde en vereistes voldoen,” het hy verduidelik.

Volgens 'n amptelike skrywe van die sokkervereniging was dié tien klubs se aansoeke volgens artikel 18.1 van die NFA-grondwet suksesvol en is as sodanig deur die NFA bevestig.

Die NFA maan volgens artikel 13.1(i) die tien klubs om hulself daarvan te weerhou om by enige ander sokkerliggaam betrokke te wees. Hiermee bedoel die NFA die NPL, die geskorste voormalige lidorganisasie wat nie meer by hom geregistreer is nie en nogtans soos tevore op sy eie wil voortgaan om Namibië se topsokker aan te bied.

Volgens mnr. Franco Cosmos, waarnemende sekretaris-generaal van die NFA wat die NFA-skrywe onderteken het, sal die TTL se toekoms op 24 Oktober deur dié liggaam se uitvoerende raad bespreek word, wat tot finale goedkeuring by die jaarvergadering op 5 Desember behoort te lei.

Dié verwikkeling beteken dat die tien klubs amptelik nie meer NPL-lede is nie.

Nanyemba sê: “Ons het amptelik uit die NPL bedank en is sedert Maandag nie meer NPL-lede nie.

“Die klubs wat nie vir NFA-lidmaatskap aansoek gedoen het nie, sal self met die NFA moet onderhandel as hulle by die TTL wil aansluit.

“Ons sien uit daarna om saam met die NFA te werk en hopelik kan sokker binnekort hervat. Uit ordentlikheid sal ons die NPL van ons besluit inlig.”

Volgens Nampa het Patrick Kauta, NPL-voorsitter, nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.

Die oorblywende ses klubs uit die laaste NPL-seisoen wat hulle nog nie amptelik tot die nuwe TTL verbind het nie, is African Stars, Tura Magic, Unam, Life Fighters, Eleven Arrows en Okahandja United.

Sokker se wêreldbeheerliggaam Fifa het hom die afgelope dae reeds skerp uitgespreek oor 'n dreigende skorsing vir Namibië vanweë die regering se “onaanvaarbare” rol om 'n nuwe “wegbreekliga” tot stand te bring.

– Bygewerk van Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer