Klip onthoof vrou 700 m weg
Die familie neem regstappe teen die maatskappy verantwoordelik vir die ontploffing.
Kristien Kruger
'n Vyftigjarige vrou is Vrydag op slag dood toe 'n klip afkomstig van 'n ontploffing by 'n nabygeleë konstruksieperseel in die /Gomxab informele nedersetting naby Gochas haar teen die kop getref het.
Volgens 'n polisieverslag was me. Anna Ida Jaars omstreeks 18:00 voor haar huis toe die voorval plaasgevind het. Die klip het glo sowat 700 meter getrek voor dit haar getref het.
Landsberg Drilling and Blasting het die ontploffing uitgevoer as deel van hul projek om 'n nuwe rioolstelsel vir die nedersetting te implementeer. Hulle was deur Uundenge Investments aangestel.
'n Familielid van Jaars, mnr. Tienie Isaack, het aan Republikein gesê Jaars se man en kinders is getraumatiseer.
“Hulle was by haar toe die voorval gebeur het. Hulle het haar kop daar sien lê.” Volgens Isaack gaan die familie regstappe teen Landsberg Drilling and Blasting neem.
“Ons glo die maatskappy was nalatig deur die ontploffing so naby aan die huise te laat geskied. Hulle het nie die lede van die gemeenskap se veiligheid in ag geneem nie,” het hy gesê.
Die bestuurder van Landsberg Drilling and Blasting, mnr. Elvin Hangula, het dié aantyging ontken. Volgens hom was dit 'n tragiese ongeluk.
“Ons maatskappy het alle riglyne in terme van die wet op gesondheid en veiligheid nagekom. Ons het selfs die mense vooraf oor die ontploffing in kennis gestel,” het Hangula gesê.
Die maatskappy het glo aangebied om 'n gedeelte van die begrafniskoste te dek, maar Isaack sê hulle sal nie die bedrag aanvaar nie, want volgens hom moet die maatskappy vir die hele begrafnis betaal.
Saterdag is 'n familiediens vir Jaars gehou waartydens die Hardapstreek se goewerneur, mnr. Salomon April, 'n toespraak gelewer het. Volgens Isaack het April se woorde hulle net verder ontstel.
“April het aan die familie gesê hulle moenie vir die maatskappy kwaad wees nie, maar vir God wat die klip gestuur het. Dit het ons kwaad gemaak en aangespoor om regstappe te neem,” het Isaack gesê.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie