Kleinseun slaan oupa glo met hamer
Kleinseun slaan oupa glo met hamer

Kleinseun slaan oupa glo met hamer

Verskeie voorvalle van ernstige geweld is by die Namibiese polisie aangemeld.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



'n Tagtigjarige man se kleinseun (27) het sy oupa glo herhaaldelik met 'n hamer oor die kop geslaan.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het die voorval verlede Donderdag in die Okaputa-nedersetting, naby Okatope, plaasgevind.

Die kleinseun, van Oshakati, het glo die vorige aand by sy oupa gaan kuier.

“Die kleinseun het glo sonder enige rede sy oupa in sy slaapkamer met 'n hamer oor die kop geslaan. Die oupa het geskree en die mense in die huis het hom hulpeloos in 'n plas bloed aangetref,” sê die polisie.

Die oupa is na die Onandjokwe-hospitaal geneem en is in 'n kritieke toestand. Die kleinseun is in hegtenis geneem.

Ook in die Okatope-omgewing in die Uuhama-lokasie het 'n 47-jarige man ná 'n argument glo sy eksmeisie (28) vyf keer met 'n mes in die kop, rug en linkerskouer gesteek.

Die vrou het ernstige beserings opgedoen en is na die Onandjokwe-hospitaal geneem.

Die paartjie was glo vir sewe jaar in 'n verhouding en het glo 'n ­sesjarige seuntjie. Die verdagte is in hegtenis geneem.



MOORD

Mnr. Abrahaham Petrus (22) het Sondag ná 'n messteek in sy bors gesterf.

Die voorval het by die Ondjiina-lokasie in die Omuthitu Gwalwani-nedersetting, in die Elim-kiesafdeling, naby Okakao, plaasgevind. Die slagoffer is op die toneel dood nadat hy glo deur 'n 65-jarige verdagte met 'n mes gesteek is nadat hulle glo oor tuisgebroude bier gestry het.

Maandag het Fotolela Ndimulunde (42) gesterf nadat hy na bewering deur 'n 22-jarige man met 'n mes in die bors gesteek is. Dié voorval het in Omatando-nedersetting in Ongwediva by 'n kroeg plaasgevind ná 'n stryery. Die man se naasbestaandes is van sy dood ingelig. Die polisie­ondersoek duur voort.

'n Angolese man (41) het ernstige beserings opgedoen nadat hy glo met knopkieries en stokke deur ses onbekende mans aangeval is.

Hy is in die Oshakati-staatshospitaal opgeneem en verkeer in 'n ­kritieke toestand.

Die voorval het Saterdag omstreeks 23:11 by die Omutumbe-lokasie in die Etunda-nedersetting, naby Ruacana, plaasgevind. Die voorval spruit glo uit 'n stryery waartydens die verdagtes die Angolees daarvan beskuldig het dat hy hulle bees gesteel het. Die verdagtes het na bewering na die Angolees se huis gegaan en hom Omatumbe toe geneem waar hulle hom glo aangerand het. Die verdagtes is nog nie in hegtenis geneem nie.



CHINEES BEROOF

'n Chinese man (39) met Namibiese burgerskap is glo Vrydag omstreeks 21:00 by sy huis in Hansastraat in die Lafrenz-nywerheidsgebied deur vyf rowers beroof.

“Hulle het na bewering by sy huis ingebreek en vier selfone, 'n baadjie, een skootrekenaar, 'n iPad, N$11 000 se kontant, karsleutels en 'n vuurwapen met die reeksnommer 45ACP gesteel. Die totale waarde van die gesteelde goedere word op N$60 000 bereken,” sê die polisie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die gesteelde goedere is nie teruggevind nie. n Man is Vrydagmiddag in 'n rivierbedding by Nkurenkuru in die Kavango-Wesstreek met 30 ballies dagga in hegtenis geneem nadat hy deursoek is.

“Die polisie het ná 'n soektog by 'n huis op nóg 'n sak vol dagga afgekom en nóg 'n verdagte in hegtenis geneem. Die totale waarde daarvan is nog nie bepaal nie,” sê die polisie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer