Klein vissies lê op strande
Visse wat op drie plekke op die Hentiesbaaise strande uitgespoel het, word deur hengelaars as 'n onbenullige verskynsel uitgemaak wat geensins op ramptoestande op see dui nie. Strandgangers het Saterdagmiddag die eerste keer op vissies op die strand afgekom toe hulle in die rigting van Solitude gaan stap het. Trapfietsryers op die strand het later op dié visse afgekom, maar ook op nog twee plekke van die klein vissies gekry. Een plek was teenoor die sogenaamde Ankerhuis onder die Suidduin en die ander op die strand onder die Noordduin. Hengelaars het die vissies uitgeken as marsbankers en ook enkele baie klein stokvissies. Beweringe van ansjovis op die strande is ook ondersoek, maar daarvan was daar geen teken nie. Een hengelaar het aan Republikein gesê al die visse van die drie plekke sou nie eens genoeg vir 'n bakkievrag wees nie. Hentiesbaaiers was nogtans gewaarsku om nie van die vissies vir die pan te gebruik nie. Op die foto is van die vissies naby Solitude. Foto verskaf
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie