Kiwiu2019s koop kaartjies soos soetkoek
Kiwiu2019s koop kaartjies soos soetkoek

Kiwi’s koop kaartjies soos soetkoek

Rugby
Nieu-Seelandse Superrugby-spanne verwelkom die vooruitsig van 'n “massiewe hupstoot” met toeskouers wat hierdie naweek gaan terugstroom na stadions met die langverwagte terugkeer van hul geliefde sportsoort.

Nieu-Seeland het gister sy eerste dag in drie maande sonder koronavirus-beperkings gevier, terwyl die res van die wêreld nog met dié pandemie worstel.

Andrew Hore, die grootbaas van die Blues, sê meer as 20 000 kaartjies is reeds verkoop vir Sondag se Superrugby-Aotearoa-wedstryd teen die Hurricanes.

Die reeks oor tien weke is georganiseer nadat die groter Superrugby-reeks, wat ook spanne van Australië, Suid-Afrika, Argentinië en Japan insluit, opgeskort is.

“Kaartjies verkoop soos soetkoek en dit is fantasties. Dit wys dat mense weer so 'n vorm van 'n sosiale ervaring wil beleef,” het Hore gesê.

“Dit sal die rugbybedryf en ander verwante besighede ook help. Dit is 'n groot hupstoot vir die plek.

“Ons reken meer as 35 000 toe­skouers sal opdaag en dat daar 'n gelaaide atmosfeer sal wees, wat albei spanne sal bemoedig.”

Meer as 12 000 kaartjies is ook al verkoop vir die eerste wedstryd tussen die Highlanders en die Chiefs in Dunedin Saterdag. Daar word gehoop dat meer as 20 000 toeskouers sal opdaag.

Terwyl die toeskouers broodnodige inkomste sal inbring, het die Nieu-Seelandse Rugbyunie Maandag gesê dit is nie 'n “wonderkuur” vir sy beroerde finansies nie. 'n Afname van 70% in sy inkomste word weens die pandemie voorspel.

Saterdag: Highlanders tn Chiefs, 09:05 (regstreeks SS1)

Sondag: Blues tn Hurricanes, 05:35 (regstreeks SS1)

– Reuters, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-07-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer