Kiwi help breier vir Kenia kies

Sewesrugby
Innocent Simiyu, voormalige breier van Kenia se sewesrugbyspan, is weer as dié span se afrigter aangewys.

Die 37-jarige Simiyu is in die plek van Paul Feeney aangestel.

Simiyu is in 2018 van sy pligte onthef nadat Keniaanse spelers in Parys, Frankryk, in opstand gekom het oor beloofde bonusse wat nie betaal is nie.

“Ek is bly om na die span terug te keer, en uit die aard van die saak is daar baie werk om te doen. Hopelik kan ons saamwerk om te kyk hoe ons die span na die volgende vlak kan neem,” sê Simiyu, wat vir twee jaar aangestel is, volgens allafrica.com.

Feeney, 'n Nieu-Seelander wat voorheen deel van die Stormers se afrigtingspan was, was op die paneel wat op Simiyu as die geskikste kandidaat besluit het.

Die Keniaanse rugbyunie het in Junie aangekondig dat Feeney en die unie gesamentlik ooreengekom het om hul verhouding te verbreek.

Die Nieu-Seelander is in April weens die Covid-19-pandemie vir vier maande op onbetaalde verlof geplaas en hy het na sy geboorteland teruggekeer.

Onder sy afrigting is Kenia in 2019 as die Afrika-kampioen bekroon – wat die span laat kwalifiseer het vir die Olimpiese Spele, wat nou in 2021 gaan plaasvind.

Simiyu het Kenia in sy speeldae in sewes- en vyftienman-rugby verteenwoordig en ook in albei die formate aangevoer.

Die Keniane is 'n gerekende span in Wêreldrugby se sewesreeks, en het vroeër vanjaar die Blitsbokke tydens die Hamilton-toernooi in Nieu-Seeland in 'n groepwedstryd oortuigend met 36-14 geklop.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer