Kinderverkragter se vonnis onveranderd
Kinderverkragter se vonnis onveranderd

Kinderverkragter se vonnis onveranderd

Dragan Vujicin se appèl teen sy skuldigbevinding en vonnisoplegging het misluk met slegs een van die vier appèlaansoeke wat bekragtig is.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die veroordeelde kinderverkragter Dragan Vujicin (69) het gister in die hoërhof in Windhoek min sukses met die uitspraak van sy appèlaansoek teen sy skuldigbevinding en vonnisoplegging behaal. Slegs een van die vier appèlle is bekragtig.

Vujicin is in Februarie 2019 tot 35 jaar tronkstraf gevonnis ná hy skuldig bevind is op vier klagte van mensehandel en sewe klagte van kinderverkragting.



APPèLAANSOEKE

Vujicin se appèl teen sy vonnisoplegging is gebaseer op die feit dat die hof hom, as gevolg van sy ouderdom, ontneem van enige vooruitsig om in sy leeftyd vrygelaat te word.

Regter Kobus Miller beweer egter die hof sal slegs met 'n vonnisoplegging inmeng as dit duidelik onvanpas en skokkend is.

Die appèl is daarom van die hand gewys omdat daar volgens Miller geen grondslag vir ingryping en 'n verandering van die vonnis is nie.

Vujicin het ook 'n appèlaansoek teen sy skuldigbevinding van klagte 10, 12 en 13 van verkragting ingedien waarvan een geslaag het.

Miller het beslis daar is nie genoeg bewyse om met sekerheid vas te stel dat verkragting in verband met klagte 10 plaasgevind het nie. Die appèl teen die skuldigbevinding van klagte 12 en 13 is egter van die hand gewys.



AGTERGROND

Vujicin het tussen 2013 en 2014 vier meisies tussen die ouderdom van sewe en nege jaar na sy huis in Mondesa op Swakopmund met onder meer geld, speelgoed en soetgoed gelok waar hulle moes deelneem aan masturbasie en seksuele aktiwiteite.

Hoewel Vujicin onskuldig gepleit het op alle klagte, is hy in die streekhof op Swakopmund tot 90 jaar gevangenisstraf gevonnis – vyf jaar vir elke klag van mensehandel en tien jaar vir elke klag van verkragting.

Sommige vonnisse word gelyktydig uitgedien en dit laat 'n totaal van 35 jaar tronkstaf.

Hy het in 'n dokumentêr genaamd “Dragan's Lair” verskyn wat deur sy stiefdogter vervaardig is. In die dokumentêr, wat op YouTube gekyk kan word, het sy onthul hoe hy haar as kind seksueel misbruik het.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer