Kinders gee jou grys hare, nie ouderdom nie
Estelle de Bruyn
My kinders is in my oë die oulikste, beste, slimste, mooiste, dierbaarste kinders in die wêreld, soos elke ma in die wêreld se kinders vir haar veronderstel is om te wees.
Maar ai, met al die vreugde en plesier, die lag en geniet, die gedeelde juweeltjies wat die lewe so 'n wonderlike ondervinding en reis maak, is daar maar ook oomblikke wat jy dink die Here kon jou dit gespaar het.
Sondag het rustig begin. My kind en sy beste vriende was in Mosambiek met vakansie.
Die foto's was vol tropiese paradyse met wit strande, palmbome en seekos-“platters” wat met kreef oorlaai is.
Ek het 'n WhatsApp gekry wat aangedui het dat ná Mosambiek, hulle vir drie dae Swaziland toe sou gaan en dan die pad huis toe sou aanpak.
Op die laaste het ek en die vriende se ma hulle Saterdag by die huis terug verwag.
Teen Sondag was daar nog geen teken van hulle nie. Soos enige ma enige plek in die wêreld maar seker sal doen, het ons in paniek en angs verval in gedagtes oor die donkerste, slegste moontlike uitkoms.
Nadat ons die polisie, die grensposte en al hul vriende gebel het, persoonlike kontakte gebruik het om op die uitkyk te wees, en ure met eindelose “wat as”-gedagtes deurgebring het, het die ma van die twee vriende hulle opgespoor.
Teen daardie tyd het ek deur die slegste tyd van my lewe gegaan. Jy wil weet waar jou kind is, maar jy wil ook nie weet nie, want dit kan dalk slegte nuus wees.
Die kinders was veilig, hulle het net geen selfoonontvangs gehad nie.
Hulle hou toe net bietjie langer vakansie. Maar vir 'n ma met 'n bekommerde hart en 'n borrelende maagseer wat wôrrie oor kinders as 'n mens nie van hulle hoor nie, was dit vreesaanjaend.
Laat dit nou 'n les vir alle kinders orals, ongeag hul ouderdomme, wees.
Ons is lief vir julle. Ons gee regtig om. Ons wil so graag gerus wees. Hoe ouer ons word, hoe moeiliker word dit, want dan het ons julle langer lief.
Sowat 33 jaar en 26 jaar se liefde hoop op - dit word net meer.
Dis 'n sagte, maar nie subtiele beroep nie, op alle Namibiese kinders om dit in ag te neem.
Laat weet net “veilig in Mariental”, “nou net gery uit Hentiesbaai”, “nou by Buitepos”, “deur die grens, op pad huis toe”, veilig in die Kaap/Johannesburg/Parys/Londen/New York/Hongkong (of waar ook al)”.
Kinders, glo ek, skuld hul ouers niks. Ons het hulle in die wêreld ingebring met die besef dat hulle óns verantwoordelikheid is, vir ewig.
Maar die een beleefdheid wat julle aan jul ouers kan betoon, is om ons te laat weet dat julle veilig is; dat julle in die moeilikheid is en ons hulp nodig het, of dat julle onveilig voel en dink dit is nie 'n goeie plan om in 'n kar met 'n vreemdeling of besope bestuurder te klim nie.
Bel jou ma of pa.
Ons is daar en wil julle net veilig hou.
Groot asseblief.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie