Kinderhuis kry ná 29 jaar besoek van hoë

Maria Eiseb
Maria Eiseb



Die Megameno-kinderhuis in die hoofstad het vir die eerste keer in sy 29-jarige bestaan 'n besoek van 'n minister gekry.

Die adjunkminister van armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, eerw. Aino Kapewangolo, was onlangs by dié kinderhuis in die Shandumbala-woonbuurt en het items ter waarde van sowat N$7 500 geskenk. Dit het onder meer bruinsuiker, sopmengsel, seep, droëgis, sout en pap ingesluit.

Kapewangolo het daarbenewens sowat 30 panbrode uit haar eie sak gekoop en ook N$500 vir die stigter van Megameno, me. Maria ­Shaalukeni (65), gegee.

Die kinderhuis huisves tans sowat 26 kinders, wie se ouderdomme wissel van twee tot 25. Twee van hulle is studente aan onderskeidelik die Universiteit van Namibië (Unam) en die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust).

Tydens die oorhandiging het die ministerie se direkteur van ­programme vir armoede-uitwissing, me. Niita Iipinge, gesê die items is van gemeenskapslede en individue wat dit aan die ministerie geskenk het. Volgens die ministerie was dit tyd om ook aan Megameno 'n skenking te maak.

Kapewangolo het gesê kinderhuise moet groente­tuine aanlê vir voedselsekerheid en om kinders te leer hoe om hul eie kos te produseer.

Volgens Shaalukeni was dit die eerste keer in die 29 jaar sedert sy die weeshuis oopgemaak het dat die ministerie die plek besoek. “Dit is ook die eerste keer dat die kinders dié mense van naby kan sien. 'n Mens dink mos maar hulle sal nie na sulke plekke toe kom nie.”

Volgens Shaalukeni is sy baie lief vir al die kinders. “Hulle is die leiers van môre; daarom kan ek hulle nie verstoot nie. Die weggooikinders van die Katutura-hospitaal en ook van Rehoboth word vir my gebring, en ek neem hulle met ope arms in.”

Mnr. Jeremiah Shaalukeni (23) woon vandat hy vyf jaar oud is in die kinderhuis. Hy is 'n tweede­jaarstudent in regte aan Unam. Hy sê Megameno sal altyd die enigste huis wees wat hy ken.

Me. Angela Engela (23) is 'n derdejaarstudent aan Nust waar sy vir 'n B.Sc.-graad studeer. Sy sê toe haar ma afgesterf het, is sy deur Shaalukeni ingeneem. Ná afloop van haar studies sal dit steeds haar tuiste bly.

“Al gaan werk ek, sal ek hier bly en help om na die kleintjies te kyk,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer