Khomasstreek het 40% van totale Covid-19-gevalle
Khomasstreek het 40% van totale Covid-19-gevalle

Khomasstreek het 40% van totale Covid-19-gevalle

Henriette Lamprecht
Uit die 281 nuwe Covid-19-gevalle wat vandag deur die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, aangekondig is, is 163 in Windhoek. Khomas verteenwoordig 58% van vandag se gevalle, gevolg deur Oshana se 6% en //Kharas en Zambezi met onderskeidelik 5% elk. Die getal Covid-19-gevalle vir die Khomasstreek staan nou op 2 651. Volgens Shangula is 2 393 gevalle in die streek in 27 dae aangeteken. Die meerderheid van die gevalle in die hoofstad is in Khomasdal (12%), Otjomuise (8%) en Goreangab, Okuryangava en Wanaheda met 5% elk. Volgens Shangula het nog 'n inwoner van die hoofstad, 'n 25-jarige man, aan Covid-19-verwante oorsake gesterf. Hy het geen onderliggende mediese toestande gehad nie. Die bring die getal sterftes op 60 te staan.

Uit vandag se 281 nuwe gevalle is buiten die 163 in Windhoek 24 in Swakopmund, 13 in Walvisbaai, 19 in Oshakati, 15 in Katima Mulilo, 13 in Keetmanshoop, twee in Lüderitz, vyf in Okahandja, vier in Otjiwarongo, een in Grootfontein, ses in Engela, twee in Eenhana, vier in Mariental, twee in Rehoboth, drie in Rundu, twee in Gobabis en een elk in onderskeidelik Outapi, Oshikuku en Onandjokwe aangeteken. Dit bring die totale getal bevestigde gevalle vir die land op 6 712 te staan.

Die getal persone wat herstel het, het met nog vier tot 2 776 gestyg. Huidig is daar 3 876 aktiewe gevalle en 7 813 kontakte word gemonitor. Tot op hede is 55 596 weefselmonsters getoets en is 1 466 mense in kwarantyn.

Kommentaar

Republikein 2025-05-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer