Kersfees sonder oumas
Kersfees sonder oumas

Kersfees sonder oumas

Elvira Hattingh
Liewe Ouma, mamma huil baie. Sy sê dis omdat sy nie haar Boeta kon groet nie en omdat ouma en oupa dit alleen moes doen. Sy sê mammas en pappas mag nooit alleen langs grafte staan nie.

En sy huil oor Kersfees, Ouma, want sy sê dit gaan óók alleen wees.

Sy sê die virussiekte het nou in die ministers se koppe ingegaan en dit beteken ons kan nie na julle land toe gaan nie. Ek weet nie mooi wat sy bedoel nie. Hoe lyk dit as mens se kop siek is?

Ek skryf, want ek dink Ouma kan help.

Toe ek een Kersfees siek was, was dit net ouma se spesiale medisyne wat ouma van die plantjies maak, wat my beter laat voel het. Kan ons dit nie vir die minister gee nie? En dan kan hy ander reëls maak sodat ons Kersfees kan kom en dan kan mamma ook ophou huil?

Want mamma en pappa sê hulle het nie geld of verlof vir vliegtuie en kwarantyn nie, of so iets. Veral noudat die virus pappa se werk gevat het. Mamma sê ons gaan toegesluit word as ons terugkom van julle af.

Het ons dan iets verkeerd gedoen, Ouma? Ek wil nie toegesluit word nie.

Sy sê die mense is bang vir die virussiekte, maar dat hulle banger moet wees vir goeters wat regtig gevaarlik is, soos honger mense, karre en siek koppe. Ek verstaan nie mooi nie.

Ek dink net dit beteken hierdie jaar gaan ons nie saam Kersfeeskoekies bak en versier en dan in die boom hang nie. En wat van klein sussie – sy kan nie van laas Kersfees af onthou hoe julle nou weer lyk nie! Gaan sy nie heeltemal vergeet nie?

Sy was laas nog te klein om Kersfeeskoekies te eet.

Waaroor ek ook nogal wonder, is wat Kersvader dan hierdie Kersfees gaan maak sonder oumas se Kersfeesbome. Waar gaan hy ons geskenkies los?

Miskien sal hy bly wees om hierdie Kersfees af te wees, ek dink hy kry in elk geval warm in sy rooi, langmou pak. Maar waar kry mens presente as oumas en oupas nie Kersfeesbome het nie?

Ek verlang vir julle, Ouma. Vergeet oumas en oupas ook hoe mens lyk? Mamma stuur foto’s van wat ons doen, so julle moet net mooi kyk sodat julle ons kan onthou.

Ek wonder oor Oom Boeta se seuntjie, of klein nefie sy pappa altyd van laas Kersfees af sal kan onthou? Kan mens foto’s uit die hemel stuur?

Ouma moet sien, Sussie het al begin loop. Maar sy kou al my blokkies en dan is dit vol spoeg. Sy spoeg ook haar kos uit en kou die kat se hare. Ek dink nie dit proe lekker nie en sy kom orals agter my aan.

Ek ken nou al die tweemaaltafel en ek lees die heel beste in my klas.

Ouma, ek dink mamma se hart is siek omdat sy julle verlang. Sal ouma asseblief daai medisyne vir haar en die minister stuur sodat hulle gesond kan raak?

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer