Ken jy nie dalk vir . . .
Ek staan vir die hoeveelste keer iewers in die Wes-Kaap in ’n ry om vir ding in ’n winkel te betaal. Ek het lankal opgehou om te tel. Maar dit kon dalk ’n duisend keer of sommer heelwat meer gewees het wat ’n belangstellende party my dié vraag gevra het.
Maak nie saak of dit op Riversdal, Parow, Stilbaai, Saldanha of Worcester is nie. As iemand in die omtes hoor kom jy oorspronlik van Namibië af, wil hy of sy terstond weet of jy nie vir ou Faan van Grunau, tannie Ralie van die plaas Moedswillig naby Gobabis, sy neef Pieter van Rundu of Simon van Ondangwa ken nie.
Dit wou vir my voorkom of iemand uit die verre land van brawe burgers en verre verlatenheid ’n tipe magnetiese aantrekkingskrag vir Suid-Afrikaners gehad het wat met ’n goeie skeut romantiek en dalk ook heimwee vir hulle afgerond was.
Of jy nou vir so en so ken waarna jou gespreksgenoot aanvanklik verneem, het nie veel van ’n verskil aan die uiteinde van jou nuutgevonde bewonderaar se sienswyse of entoesiasme gemaak nie. Veral jonger mannetjies was skaamteloos beïndruk met jou, en die vroue wou graag weet of jy nie toevallig ’n ongetroude neef of ding het wat as ’n Namib- of Kalahari-boer bekendstaan nie.
“Ooe, hulle is sulke ruwe, aantreklike, groot, sterk mans wat enige vrou se droom is,” het die vroue gereeld geswymel terwyl ek gereed gestaan het om haar te vang indien sy van opwinding ineen sou stort.
Min het sy geweet van alleen op ’n plaas sit, ver van enige môll en tjek-hers of piek en py, terwyl manlief vir baie aande eers lank ná middernag uit die veld by die huis gaan kom. Ek het maar stilgebly en die onskuldige slagoffer gelos om verder van haar Namib-ridder te droom terwyl sy swik-swik op haar hoë hakkies verder trippel en ’n lyn na haar vriendin op haar selfoon gooi.
Met mans word die gesprek meer as dikwels ná die betaalpunt voortgesit en gaan dit maak ’n draai by sy dienspligdae op Katima Mulilo of toe hy en sy pelle daai een jaar vir drie weke op Henties gaan visvang of jag het.
Gewoonlik het die manne so lekker gekuier dat daar nooit by hengel uitgekom is nie en vis moes gekoop word om as bewyse tuis in die Kaap by die vrouens te dien.
So asof hulle darem wou wys dat hulle hulself wel vir dae lank langs die Namib se viswaters afgesloof het om spesjinjaal net vir haar ’n vissie huis toe te vat, terwyl sy alleen in sak en as by die huis moet sit.
Baie keer was die persoon te jonk om enigiets van Namibië, haar mense of die leefstyl hier by ons te weet. Van die mense het al van Namibië en sy legendes gehoor, wat heelwat stertjies oor die jare of weke bygekry het. Daar word geglo daar is manne en vroue wat hul broeke met pofadders en geelslange vasmaak, leeus kaalhand ’n paar klappe gee en ’n gemsbok katswink van ’n bakkie af kan duik.
Vrae was daar gereeld, soos “ek hoor daar was broers wat gereeld vir die sports op mekaar geskiet het, en dan was hulle nie eens gedrink nie”.
Of “ek het gehoor daar was ’n oom wat so sterk was dat hy sy astrante stoetbul se nek eendag morsaf gebreek het toe dié hom vir die hoeveelste keer wou karnuffel”.
Die vrae en stories was oneindig. Aan die begin het ek my nie veel aan die Kapenaars se kultuur van vra en weet gesteur nie, maar later het ek ’n perverse genot daaruit geput om die manne se fabels verder te stook en het sommer self van die dae vertel toe tiere nog in Windhoek se strate rondgedrentel het.
Ek het self al meer en meer van my geboorteland en sy mense begin droom, waar die wye vlaktes en duine, kameelbome met sy versamelvoëlneste, noeniebome, Swakop en Henties met sy kabeljou en galjoen, gemsbok- en springbokbiltong en vele ander bekende dinge my geroep het.
Toe kom kyk ek maar of daar nog sulke mense is soos wat die Kapenaars my van vertel het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie