• Tuisblad
  • Sport
  • Kempson, De Allende tob oor Pro14-halfeindstryde

Kempson, De Allende tob oor Pro14-halfeindstryde

Rugby
Michael Green – Daar is baie min spanne in wêreldrugby wat Leinster kan klop, daarom dink hy dié Ierse span sal moeilik van sy Pro14-titel afstand doen, sê Robbi Kempson, waarnemende hoofafrigter van die Southern Kings.
Hokaai, sê die Springbok-senter Damian de Allende, Munster is dalk net die span wat die Leinster-manne sal kan stuit!
De Allende sal Vrydag in die eerste halfeindstryd van die Pro14-reeks in Dublin in sy derde wedstryd vir Munster in aksie wees.
In die ander halfeindstryd Saterdag pak Edinburgh en Ulster mekaar op Murrayfield.
“Min spanne in wêreldrugby sal daardie masjien (Leinster) kan stuit, hoewel Munster dit byna onlangs gedoen het,” sê Kempson.
Hy het al verlede seisoen as voorspeler-konsultant by die Kings betrokke geraak en ken die spanne in die Pro14 dus baie goed.
Munster het twee weke gelede net met 25-27 teen Leinster verloor. Met albei spanne wat nou beter op dreef is nadat die Covid-19-pandemie die seisoen onderbreek het, verwag Kempson egter dat Leinster te veel skietgoed vir Munster sal hê.
De Allende sê weer hy kan sien dat Munster, wat deur die voormalige Springbok-hulpafrigter Johann van Graan gebrei word, baie ambisie het.
“Ek streef daarna om toernooie en kampioenskappe te wen, waar ek ook al speel. Ek het by Munster ’n kontrak onderteken omdat ek voel die klub het ’n goeie geskiedenis, die regte afrigtingspan en hart,” sê hy.
Hoewel hy nog net twee wedstryde vir Munster gespeel het, sê De Allende hy kan sien dat daar ’n “groot begeerte” onder sy spanmaats is om “gereeld” die Pro14-reeks te wen.
“En nie net die Pro14 nie, die Kampioenebeker ook,” las hy by.
De Allende sê die stryd tussen Munster en Leinster laat hom aan die Noord-Suid-derbies tussen die Stormers en die Bulle dink.
“Dit raak baie intens op die veld, al het almal baie respek vir mekaar. Ek is nie ’n Ier nie, maar hierdie Ierse ouens ding vir plekke in die Ierse nasionale span mee,” sê hy.
Kempson het in sy eie speeldae van 2002 tot 2004 vir Ulster gespeel en sê hy het steeds ’n sagte plekkie in sy hart vir dié span.
“Dit gaan ’n baie taai, mededingende stryd wees. Ek hoop Ulster kan dit maak, maar dit is ’n baie moeilike uitslag om te probeer voorspel,” sê die oud-Springbokvoorryman.
Hy beskou Richard Cockerill, Edinburgh se hoofbreier, as ’n uitgeslape afrigter, wat dalk ’n haas uit die hoed kan pluk in die stryd teen Ulster.
Leinster pak Munster Vrydag om 20:35 en Edinburgh en Ulster kom Saterdag om 20:35 teen mekaar te staan. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer