Katte kan ook jou beste vriend(in) wees
Ek het nog altyd gedink ek is 'n hondemens, tot een dag – lank lank gelede – toe 'n piepklein katjie by ons beland het.
Hy was net 'n paar weke oud; die ma het glo haar kleintjies verwerp. So sit ons toe met dié klein swart katjie. Ons het nie 'n idee hoe om hom groot te maak nie.
Gelukkig het ons van iemand geweet wie se kat 'n paar maande tevore kleintjies gehad het en hulle was gespeen. Dié ma het ook nog bietjie melk gehad.
Ons het klein Matewissie by haar gesit en sy het hom direk – soos haar eie – aanvaar; sonder enige probleme. Sy het hom geleer om te jag en al die dinge te doen wat katte katte maak. Hy was die oulikste ou katjie met 'n persoonlikheid wat vir niks teruggestaan het nie.
Hy het in die middae wanneer ons die voordeur oopmaak soos 'n pyl en boog van iewers af gekom. Hy het voor ons ingehardloop en sonder seremonie reg voor die deur gaan lê; dan moes jy oor hom klim.
Toe gebeur die ergste. Ou Matewis raak weg. Ek het vir twee weke na hom gesoek, maar tevergeefs. Ek het lang trane gehuil. Dit is toe ek besef ek is eintlik 'n honde- én 'n katmens.
Jare het verbygegaan en ons het nie weer 'n kat gekry nie, tot 'n jaar gelede. Iemand wou 'n agtjarige kat weggee en ek is gevra of ek belang stel. Ek wou nog hierdie en daardie kant toe, maar toe ek 'n foto'tjie van haar sien, toe weet ek ons moet haar aanneem.
Hazel was nog net 'n plesier vir ons. Sy het die mooiste maniere. Sy maak nie haar naels teen my meubels skerp nie, sy klim nie op my kombuiskaste nie en die belangrikste van alles is sy bring geen dooie voëls en muise in my huis in nie. Sy is eintlik 'n propperse huiskat.
Een nadeel van Hazel is dat sy nie 'n spanspeler is nie. Sy verpes enige ander dier. Wanneer sy in die aande op haar wandelinge op 'n ander kat afkom, klink dit of hulle mekaar verskeur, maar eintlik staan hulle net vir mekaar en kyk en maak onaardige geluide. Ek neem aan dit is om die “teenstander” af te skrik. Al wat help is om die tuinslang te gryp en hulle nat te spuit. Die kyke wat ek kry as sy huis toe sluip, gee mens nagmerries. Sy is dan nie baie ingenome met my nie.
Sy dink ook party keer sy is 'n hond. Wanneer ek my voet in die badkamer sit, dan kom krap sy by die deur of sy miaau om in te kom.
Die kenners sê katte is van die gewildste troeteldiere in die wêreld. Hier is 'n paar interessante feite oor katte wat ek definitief nie geweet het nie: Katte slaap ongeveer 16 ure per dag. Hulle het 230 bene in hulle liggame; 'n volwasse mens het slegs 206. Katte se gehoor is beter as die van honde, hul uriene gloei onder ultravioletlig en hulle is gedeeltelik kleurblind, nes honde.
Met haar nukke en al is ons baie lief vir haar. Sy het my gedurende lockdown geselskap gehou. Ek het nou wel die meeste van die praatwerk gedoen, maar sy was daar en sy het so deur die slaap geluister.
Dit was ten minste nog 'n asem in die huis en ek sal altyd dankbaar daarvoor wees.
Kyk mooi na julle troeteldiere, hulle wil net liefde hê en gee. Dit klink net soos 'n tweepotige spesie wat ek ken. Ons wil net aanvaar word.
Ek het hierdie op die internet gesien en gedink dit is so waar én snaaks: “It is in fact the cat's house, we only pay the mortgage.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie