Katjavivi ontken Diescho-bewerings
Katjavivi ontken Diescho-bewerings

Katjavivi ontken Diescho-bewerings

Oënskynlike verwarring oor 'n buitelandse konferensie is een van die ­kwessies waaroor die speaker en 'n politieke ontleder verskil.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die speaker van die Nasionale Vergadering (NV), prof. Peter Katjavivi, het ontken hy het die beleërde prof. Joseph Diescho se deelname aan 'n Unesco-konferensie verlede jaar ontmoedig.

Diescho het Namibië vroeër vandeesmaand vir Duitsland verlaat en beweer daar is 'n heksejag op hom ná 'n openbare vete tussen hom en pres. Hage Geingob.

Diescho het ook beweer Katjavivi het die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) aangeraai hy moet nie deelneem nie.

“Verlede jaar is ek deur Unesco genooi om aan 'n projek deel te neem. Ek is toe meegedeel die speaker van die NV het vir hulle gesê my deelname sal nie goed by Staatshuis afgaan nie. Ek kon nie eens aan die konferensie deelneem nie,” het Diescho gesê.

Katjavivi het in 'n brief aan Namibia Media Holdings (NMH) geskryf dit is betreurenswaardig dat hy nie die geleentheid gegun is om te reageer op Diescho se bewerings in die artikel “Diescho landuit” wat op 6 Februarie­ gepubliseer is nie.

Oor Diescho se bewerings het Katjavivi gesê: “Dit is nie waar nie. Ek praat nie met vennote oor deelnemers aan hul konferensies nie. Ek verwys ook nie na die president of Staatshuis as invloede op kwessies nie.'

Katjavivi het ook Diescho se bewering ontken dat hy “in ballingskap” in Duitsland is.

Die speaker het gesê hy was onder die indruk Diescho sou help om 'n konferensie oor Afrika te organiseer, wat in Duitsland gehou word.

“Daar is geen Afrika-konferensie in Duitsland waarvan ek bewus is nie," het Diescho hierop gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer