Kasregisters klingel die hardste in 4 jaar
Hanlie Stadler - Winkeliers en winkelsentrums het vir die eerste keer in 'n lang tyd rede om te glimlag – selfs dié meubels en huishoudelike toestelle verkoop.
Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het kleinhandelverkope in Augustus met 5,5% opgeskiet vergeleke met 'n jaar gelede. Dit is die hoogste styging sedert Mei 2013, dus in meer as vier jaar.
Dit vergelyk met 'n jaarstyging in kleinhandelverkope van 1,6% in Julie en 3,1% in Junie.
Jason Muscat, senior ekonomiese ontleder van FNB, sê dis moeilik om te verklaar waarvandaan die styging kom, gegewe dat verbruikers steeds diep in die skuld is en werkloosheid hoog is.
“Ons het verwag dat laer inflasie en die rentekoersverlaging einde Julie sou help, maar nie in dié mate nie. Ons vermoed dat kleinhandelaars groot afslag aanbied, wat hul winsgrense onder druk sal hou. Nietemin sal die sektor 'n gesonde bydrae tot die bruto binnelandse produk vir die derde kwartaal lewer.”
Die sterkste groei was in die kategorie “ander” kleinhandelaars, waarvan verkope van jaar tot jaar met 25,3% opgeskiet het.
Dié sektor sluit in winkels wat skryfbehoeftes, juweliersware en horlosies, sport- en vermaaktoerusting en gebruikte goedere verkoop. SSA gee nie afsonderlike syfers weer nie, wat dit moeilik maak om te bepaal of dit winkels soos Cash Converters is wat goed vaar of NWJ en American Swiss.
Luukse goedere is gewoonlik een van die laaste afdelings wat herstel van lae verbruikersvertroue, wat die vermoede laat ontstaan meer mense koop dalk gebruikte goedere.
Die ander kategorie wat stewig herstel het in Augustus is verkope van meubels en huishoudelike toestelle, wat 9% hoër is as 'n jaar gelede. Dit is 'n baie goeie aanduiding dat verbruikers se vertroue en finansiële posisie verbeter, aangesien mense die aankoop van duursame goedere uit- of afstel as hulle enigsins onseker is of geldelike probleme ondervind.
Tussen Julie en Augustus het verkope met 2,4% gestyg, die beste maandstyging sedert November 2016.
Vir die jaar tot dusver is kleinhandelverkope 1,5% hoër.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie