Kasch en Marais seëvier in Khomas Hochland

Driekamp
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Benita Kasch en Konrad Marais het laas naweek die tweede Star Body Works D2-Fritzposten-veldtriathlon gewen, wat wes van Windhoek aangebied is.

In die enduro-afdeling (1200 m swem, 27 km bergfietsry en 9 km hardloop) het Kasch sommer vroeg die voortou in die swem teen Anri Krugel geneem, maar ná die fietsskof was Krugel weer kop-aan-kop met haar.

Eers tydens die hardloopskof het Kasch weer die voorsprong herwin om haar aanslag in 'n tyd van 2 ure 25 minute en 9 sekondes te voltooi. Krugel was tweede in 2:30.28.

By die mans was Marais tweede uit die water ná Keanet-Peter Rathenam wat vir Total Pionierspark in 'n span deelgeneem het. Phillipp Sonntag was kort op Marais se hakke, met Jan-Louis Mostert derde uit die water.

Marais moes ná 'n harde val met sy fiets diep delf om in 2:19.9 te wen. Mostert het die heeltyd in Marais se nek geblaas en was net-net tweede in 2:20.9, terwyl Ian Galloway derde in 2:46.41 geëindig het.



SPRINT-AFSTAND (600 m swem, 16 km bergfiets, 5.5 km hardloop)

Oor dié korter afstande het JG van der Westhuizen, wat in die kleure van Star Body Works deelgeneem het, in 1:20.9 die eerste plek opgeraap. Hy was die vinnigste op die fietsskof en in die hardloopafdeling. Luke Brinkman was tweede in 1:22.56 en Mark Brinkmann derde in 1:33.29.

By die o.18-seuns het Jedidiah Bekker gewen (1:32.24) en Hilde-Marie Olivier was die meisieswenner in (1:42.49).



SUPERSPRINT (300 m swem, 9 km bergfietsry, 3.3 km hardloop)

Yenik Brinkmann kraai koning by die mans in 54 minute 25 sekondes, met Marius Kruger tweede in 55.24 terwyl die 13-jarige WJ Dreyer derde met 1:01.48 inklok.

By die vroue en meisies was Corley Viljoen eerste (1:04.25) gevolg deur haar suster Shanay Viljoen (tweede in 1:06.14) en Rivkah Blaauw (derde in 1:07.14).

Vir al die atlete was dit 'n wonderlike geleentheid om in die buitelug en ongerepte natuur aan so 'n byeenkoms te kon deelneem.

Die D2-driekampakademie van Adelé de la Rey en Wynand Dreyer bedank elke borg vir hul wonderlike bydrae wat die byeenkoms moontlik gemaak het. Die twee beskik beide oor ITU vlak 1-afrigterskwalifikasies.

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer