Karasburg se 'kragstasie'

Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee - Fisieke fiksheid is baie belangrik vir mnr. Ashwin Walters.
Ná jare op die rugbyveld en 'n leeftyd in 'n frisgeboude familie, het hy die afgelope paar jaar al hoe meer tyd in 'n gimnasium bestee.
Toe hy na sy tuisdorp, Karasburg, terugkeer ná sy studies in die Kaap, het hy vir homself met 'n paar stukke toerusting en 'n bietjie verbeelding 'n klein gimnasium tuis ingerig.
Dit was nie lank nie, toe wil al hoe meer van sy bure en die dorp se jong mense kom oefen. Toe hy en sy neef, mnr. Andre Walters, op 'n dag die verbasende belangstelling in sy gimnasium bespreek, is besluit om 'n gimnasium op die dorp te open.
“Dit was 'n maklike besluit vir ons omdat ons albei baie van oefen hou. Boonop is ons vreeslik lief vir ons dorp, so ons het daarna uitgesien om iets interessants te skep om die mense, jonk en oud, besig en gesond te hou,” het hy gesê toe Suiderland hulle by hul nuwe gebou in Karasburg se hoofstraat ontmoet.
“Dit was nogal 'n stryd om die perseel voor te berei en al die nodige toerusting hier te kry. Nou hoop ons ons kry die nodige ondersteuning om die ­gimnasium volhoubaar te maak en ons in staat te stel om te kan verbeter en uit te brei.”
Toe Suiderland later die dag weer inloer, wemel dit van mense van alle ouderdomme, wat hard besig was om te oefen en mekaar raad te gee en aan te spoor.
“Dit is 'n goeie inisiatief,” het konst. Reinhard Bok van die Karasburg-polisie gesê. “Ek is 'n polisieman en om so baie jong mense besig te sien, in plaas daarvan om op straathoeke te sien sit, is goed. Ek wil meer mense, veral my mede­polisiebeamptes, aanmoedig om aan te sluit en hul liggame aandag te gee.”
Die 14-jarige Jerome Rooi, 'n toekomstige spierbouer, het saamgestem. “In die verlede sou ek ledig gewees het, maar nou kan ek en my vriende hier in 'n veilige en ondersteunende omgewing saam kom oefen. Dis rêrig iets wat die dorp nodig gehad het.”
BOU OOK WILSKRAg
Ashwin, wat in 'n redelike kort tyd baie in die spierbou-arena bereik het, wil die jongspan oplei in dié sport en ander atlete help om hulself in 'n puik fisieke toestand te hou.
“Dis 'n opoffering, maar die bates van 'n gesonde lewe tesame met oefening is baie meer as net fiksheid. Dit raak jou hele leefstyl en mentaliteit,” het Walters met 'n groot glimlag gesê voordat hy amper my hand gebreek het met die groetslag.

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer