Kanse op La Niña verdriedubbel
Indien sekere weerstoestande verder versterk en voortduur, sal die teenwoordigheid van La Niña amptelik aangekondig word.
Elvira Hattingh
Die kanse is nou drie keer sterker dat 'n swak La Niña-weerverskynsel komende maand sal ontwikkel, terwyl toestande in die tropiese Stille Oseaan reeds La Niña-drempels bereik het.
Die Australiese Buro vir Meteorologie het vandeesweek hul uitkykstatus van 'n La Niña-wag na 'n La Niña-waarskuwing verander en gesê die kanse is nou 70% dat dié weerverskynsel binnekort sal kop uitsteek, hoewel hulle meen dit behoort gering en van korte duur te wees.
Indien dié toestande verder versterk, sal 'n La Niña-weerverskynsel amptelik aangekondig word.
“As die huidige weerstoestande in die Stille Oseaan aanhou versterk en vir 'n tyd lank voortduur, sal dit as 'n La Niña-voorval kwalifiseer,” lui 'n verklaring deur die buro. “Klimaatmodelle dui aan dat die gebeurtenis swak en van korte duur sal wees, wat beteken dit sal nie soos die sterk La Niña van 2010 tot 2012 wees nie.”
Oseaniese aanwysers vir Enso-toestande (El Niño-Suidelike ossilasieklimaatspatroon) toon 'n duidelike neiging na La Niña-toestande. Die oppervlaktemperatuur van die tropiese Stille Oseaan het ook laat winter afgekoel en die water onder die oppervlakte van die oostelike Stille Oseaan is koeler as gemiddeld. Dit is egter nog nie koud genoeg om La Niña-drempels te bereik nie, skryf die buro.
Ander atmosferiese aanwysers soos die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI) en passaatwinde dui ook daarop dat 'n La Niña op pad is. Voor die weerverskynsel homself sal vestig, moet atmosferiese en oseaniese aanwysers mekaar eers versterk.
Wanneer 'n La Niña op pad is, is die passaatwinde sterker as normaal, wat die oppervlaktemperatuur van die see koeler hou. Die teenoorgestelde gebeur wanneer El Niño-toestande heers.
“Alle internasionale klimaatmodelle voorspel verdere verkoeling van die tropiese Stille Oseaan en dat La Niña-drempels teen Desember vanjaar bereik sal word. Die modelle voorspel verder dat die toestande minstens tot Februarie volgende jaar sal voortduur,” skryf die buro.
Voorspellers van die Amerikaanse Klimaatvoorspellingsentrum asook die Internasionale Navorsingsinstituut vir Klimaat en Samelewing sal voorts op 7 Desember vergader en ook 'n voorspelling oor die moontlikheid van 'n La Niña-gebeurtenis waag.
Tydens hul byeenkoms vroeër vandeesmaand het die Amerikaanse voorspellers gesê die kanse dat swak La Niña-weerstoestande tydens die komende reënseisoen sal heers, is 65 tot 75% en dat dít tot in Februarie of April kan voortduur, wat beter reënvooruitsigte kan beteken.
Dit volg nadat hulle verlede maand gemeen het 'n kans van net sowat 50 tot 60% bestaan dat 'n La Niña tydens Desember sal ontwikkel.
La Niña-toestande het reeds in Oktober begin om die neutrale Enso-toestande te vervang.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie