Kanse op La Niu00f1a klim na 50%
Kanse op La Niu00f1a klim na 50%

Kanse op La Niña klim na 50%

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die Australiese Buro vir Meteorologie het pas sy Enso-uitkykstatus na ’n La Niña-wag verander.

Dit omdat hulle meen die temperatuur van die wateroppervlak in die tropiese Stille Oseaan kan teen die lente La Niña-vlakke bereik – wat goeie nuus vir reënvooruitsigte in Suider-Afrika is.

In die uitkykstatus wat pas uitgereik is, sê die buro beide die El Niño- Suidelike Ossilasieklimaatspatroon (Enso) asook die Indiese Oseaan-dipool (IOD) is tans neutraal, maar dat die tropiese Stille Oseaan steeds besig is om af te koel.

“Die meerderheid klimaatsmodelle voorspel dat dié tendens sal voortduur en dat dit in die vroeglente digby La Niña-drumpels sal wees. Daarom het die buro sy Enso-status na ’n La Niña-uitkyk verander,” het die buro in ’n verklaring geskryf.

’n La Niña-uitkyk beteken dat daar tans ’n 50% kans bestaan dat La Niña nog vanjaar sal vorm. Dit is ongeveer dubbel die gemiddelde waarskynlikheid.

“Drie modelle toon dat La Niña reeds teen láát winter gaan vorm, terwyl nog twee modelle voorspel dat La Niña-drumpels eers vroeg lente bereik sal word.

Mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige-konsultant by Santam Suid-Afrika, het vroeër vandeesmaand gesê terwyl La Niña-toestande dreig om te ontwikkel, word dit ook vereenselwig met ’n negatiewe Indiese Oseaan-dipool (IOD) – “wat ’n baie positiewe vooruitskouing vir somer­reën is”.

Die buro sê drie uit ses van hul weermodelle voorspel dat ’n negatiewe IOD in die winter of vroeglente kan ontwikkel. Tog dui die meeste modelle aan dat die IOD iewers tussen neutraal en negatief sal bly.

Sou vooruitsigte vir La Niña-toestande verder versterk, sal die buro volgende sy uitkykstatus na ’n La Niña-waarskuwing verander. Sou La Niña-toestande in werklikheid vir ’n aantal maande heers, word ’n La Niña formeel aangekondig.

Kommentaar

Republikein 2025-07-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer