Kans vir beste vegters met vingers

e-Sport
Die Namibiese Elektroniese Sportvereniging (NESA) bied komende Saterdag 'n twee-in-een kompetisie by die Hotel Thule in Windhoek aan. Eerstens dien dit as die nasionale eindronde in twee PlayStation-speletjies – Defense of the Ancients 2 (DotA2) asook Counter Strike: Global Offensive (CS: GO). Terselfdertyd sal NESA sy heel eerste vroue­toernooi vir die vegspeletjie Tekken7 bekendstel.

Die eindtoernooi vir DotA2 en CS: GO sal Saterdag om 08:00 begin met Namibië se beste spelers wat om plekke in die nasionale spanne vir die twee onderskeie items sal meeding.

Die geleentheid volg op die nasionale kwalifiserende toernooi wat aanlyn vanaf 12 Julie tot 18 Augustus aangebied is. Op grond van die deelnemers se prestasies tydens hierdie wedstryde is die top-10 finaliste genooi om in die eindronde (wat ook proewe vir die nasionale span van 2019 is) mee te ding.

Saterdag om 10:00 word ook die heel eerste vrouetoernooi in Tekken7 by Hotel Thule aangebied.

NESA se doelwit hiermee is om die sport en sy geleenthede op kompeterende vlak onder vroulike deelnemers in Namibië te bevorder. Inskrywings word tot Namibiese burgers beperk en dus sal deelnemers 'n ID-kaart of geboortesertifikaat moet kan toon om toegelaat te word.

Deelnemers sal ook 'n jaarlikse lidmaatskap van N$250 moet betaal om vir mededinging vir 'n plek in die nasionale span in aanmerking te kom. Atlete van NESA kry nasionale kleure van die Namibiese Sportkommissie wanneer hulle aan internasionale byeenkomste deelneem. NESA nooi dus die gemeenskap om Saterdag se byeenkoms by te woon om die plaaslike atlete in e-sport in aksie te sien en te ondersteun.

Vir verdere navrae is daar die vereniging se Facebook-blad (Nesa.Namibia), of e-pos kan na [email protected] gestuur word.

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer