Kan jy dit oorvertel
Kan jy dit oorvertel

Kan jy dit oorvertel

Mandy Rittmann
HENRIËTTE VAN WYK SKRYF:

Dit was nie 'n grap nie.

My slimfoon het aangedui ek het 'n elektroniese inbetaling ontvang. Tegnologies gestremd lees ek die SMS verkeerdelik, bloot net as 'n kennisgewing van betaling. 'n Maand later ontdek ek die nare waarheid.

Naar, want ek het nie 'n rekening by die spesifieke handelsbank nie én die kodenommer het intussen verval. Gewapen met my seun kry ons 'n nuwe kode, maar nie een van ons twee vind die opsie op die ATM-skerm om die geld te trek nie.

Op dag twee ry ek na die naaste tak van die bank, om dit gesluit te vind, want die gebou word opgeknap. Aangesien ek 'n belangrike vergadering in die volgende uur moet bywoon, besluit ek op die Klein-Windhoek tak, want dit is naby aan die plek van die vergadering.

Ek meld aan met inskrywing van datum (30 Oktober 2020), tyd (12:45), koors en identiteit en stap met gereinigde hande 'n heerlike, koel portaal binne: een teller, twee dames by navrae en slegs vier persone Covid-19 gespasieer. Te oordeel na die grys hare is ons drie pensioenarisse, ek ingesluit.

Afgesien van ons vyf ingerygdes is die twee dames by navrae ook elkeen besig met 'n kliënt.

Ek wonder waar die sekuriteitswag is, staan op en loer en vra die mense verantwoordelik vir handsanitasie of hulle hom gesien het, want ek wil hom inlig dat ek 'n pensioenaris is. My masker verskuil die plooie en ek is nie grys nie, sien.

Met my terugkoms sien ek pensioenaris nommer twee het 'n gaping aangegryp en by die kantoordeur wat oopgegaan het, ingeglip. Is ek toe jammer dat dit nie ek was nie, want die minute stap aan.

Knap voor een besluit ek om eerder in die ry van die tellers te gaan staan, want immers moet daar geld aan my uitbetaal word. Daar is slegs een persoon voor my, is ek bly om te sien dat die hard-praat-stem daar van vêr af aan die sekuriteitswag behoort.

“Sir,” spreek ek hom aan toe hy by my verbystap, maar hy vang net my oog, praat luidkeels voort en stap tot by die teller.

Na 'n rukkie stap ek ook vorentoe en trek sy aandag. Geduldig luister hy na my en verwys my terug na die heelwat langer ry by navrae.

Met die saamstap daarheen lig ek hom in dat ek ook 'n pensioenaris is, want gryskop nommer twee sit nou by navraagdame nommer twee. Hy lag en knik sy kop. Ek sit nou op 'n blou stoeltjie en nie meer in die ry nie.

Navraagdame nommer een is baie besig met haar kliënt.

Gryskop nommer twee is uiteindelik geholpe en 'n volgende kliënt van ons oorspronklike vyf word nader geroep. Intussen, glo ek, het gryskop nommer een besef daar lê 'n voordeel in om grys hare te hê en hy praat ook luid met die sekuriteitswag.

Sekuriteitsman antwoord hom laggend en begelei hom tot by navraagdame nommer twee en haar sittende kliënt. Gryskop nommer twee moes nie 'n groot probleem gehad het, want iets word aan hom oorhandig en hy vat glimlaggend die pad.

Ek roep vol afwagting bo die koppe uit: “Sir, you remember I'm also a pensioner!” Lag, lag stap hy verby my en bring nog kliënte in.

Die minute loop verby en my selfoon wys 13:14. Sekuriteitsman stap weer binne en gaan staan by navraagdame nommer twee.

“Meme!” Hy beduie met sy arms. Opgewonde staan ek op en stap nader, maar word gekeer. Ek kyk om. 'n Ander vrou stap van buite af nader tot by ons.

Ek kyk vraend na hom en navraagdame nommer twee verduidelik onverwags dat sy nog besig is met haar kliënt en sy gaan daarna met iets anders besig wees. Ek gaan sit - heeltemal verward. Let glad nie op wat word van die vrou van buite nie.

Navraagdame nommer een kyk nie eens op vanwaar sy baie besig is nie. Nie eens toe ek redelik hard (want almal praat oor ander se koppe lyk dit vir my) vir sekuriteitsman herinner dat ek 'n pensioenaris is en hy my sowaar steeds net uitlag nie.

Nie eens toe ek hom bedaard maar duidelik inlig: “I don't want to be difficult. I only want answers, not laughing!” Nie eens toe hy, kan jy dit oorvertel, net weer uitbundig lag en by die deur uitstap nie.

Henriëtte, sê ek vir myself. Bly kalm, want dis wie jy is. Jy wil nie moeilik wees nie.

Ek kyk rond of daar 'n bordjie is wat my 'n idee kan gee waar die bestuurder se kantoor is. Net geslote deure met bordjies wat slegs toegang aan personeel aandui.

Ek sal liewers nie waag om daar in te gaan nie, want nou-nou hou sekuriteitsman op om te lag. Ek sal maar wag totdat die stoel mensloos is en dan opvlieg!

Om 13:20 moes ek die bank verlaat anders was ek laat vir my vergadering.

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer