Kampioenskap: u2018Dit was regte besluitu2019
Kampioenskap: u2018Dit was regte besluitu2019

Kampioenskap: ‘Dit was regte besluit’

Rugby
Cobus Claassen – As daar weer oor die Springbokke se deelname aan die Rugbykampioenskap gewik en weeg moet word, sal die besluit dieselfde wees.
Rassie Erasmus, direkteur van rugby van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), sê hulle was bekommerd dat die Bokke verskeie beserings sou opdoen as hulle in dié kampioenskap in Australië gespeel het.
Saru het in die spervuur gekom oor sy besluit om aan die Suidelike Halfrond se jaarlikse kompetisie te onttrek, veral nadat Argentinië teen die All Blacks verras het.
Die Poemas het dié geskiedkundige sege behaal ondanks die feit dat hulle nie sedert 2019 se Wêreldbekertoernooi toetsrugby gespeel het nie.
Erasmus sê as dit van hulle afgehang het, sou hulle nie deur 2020 gegaan het sonder om ’n toets te speel nie.
“Natuurlik wou ons speel, teen Skotland en Georgië, die Rugbykampioenskap en dan die jaareindtoer. Dit was die plan.
“Dit was eenvoudig onmoontlik gegewe die Covid-19-inperking en regulasies wat ons in Suid-Afrika gehad het.
“Toe ons die spelers getoets het, het ons besef dit sou ’n ongelooflike risiko wees.”
In die Bok-kamp is gedurende Augustus op grond van wetenskaplike en mediese riglyne besluit die spelers moes minstens 400 minute op die veld deurgebring het voordat hulle vir toetsrugby oorweeg kon word.
“Sedert Augustus verlede jaar het iemand soos Pieter-Steph du Toit nog nie een minuut gespeel nie.
Daar is ook RG Snyman (7 minute), Franco Mostert (65), Malcolm Marx (80), Willie le Roux (150), Handré Pollard (168), Makazole Mapimpi (170), Jesse Kriel (175), Kwagga Smith (215), Thomas du Toit (250) en Lood de Jager (315).
“Ons sou ’n groep van 40 spelers Australië toe gevat het, waarvan minstens 20 spelers nie naby aan 400 minute sou wees nie.
“Soos sake nou staan, is die helfte van die groep nie naastenby gereed vir toprugby nie.”
Erasmus sê Suid-Afrika se inperking was “baie anders en langer” as in ander rugbylande soos Nieu-Seeland en Argentinië.
“Ons was eerlikwaar bekommerd dat ons verskeie beserings (in die Rugbykampioenskap) sou kry. Die spelers se welstand moes voorop gestel word.
“Spelerversekering sou nie uitbetaal as ’n speler ’n ernstige besering opgedoen het nie en hy kon stappe teen ons doen nadat ons hom ná net drie wedstryde weer laat toetsrugby speel het.”
Verskeie oorsese Bokke soos Eben Etzebeth, De Jager en Pollard wat kort nadat kompetisies in Frankryk en Engeland hervat het, beseer is, was ’n verdere rigtingwyser vir die besluitnemers in Suid-Afrikaanse rugby.
Erasmus sê hy is nie bekommerd dat die Bokke weens ’n 2020 sonder ’n enkele toets onvoorbereid teen die Britse en Ierse Leeus sal aantree nie.
“Nee, ek is nie bekommerd daaroor nie. Dit wat verlede jaar gebeur het, en ons afwesigheid in die Rugbykampioenskap, behoort nie so ’n groot impak te hê nie.
“Felix Jones (een van die Bok-hulpafrigters wat in Dublin gevestig is) en Andy Edwards, die nuwe kondisioneringshoof, is ten volle op die hoogte van ons spelers oorsee, asook Jacques (Nienaber, die hoofafrigter) met die plaaslike spelers.
“So byvoorbeeld is Mapimpi se 170 minute (in Japan) deeglik ontleed en Jacques-hulle weet hoe sy spelpeil daar uitsien.”
– Netwerk24


FOTO
Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby. Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer