Kamermaat-kaskenades
Kamermaat-kaskenades

Kamermaat-kaskenades

[email protected]
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis

Oor die tydperk van 23 jaar wat ek al op dié aarde is, het ek al 18 jaar lank my woonkwartiere met iemand gedeel.

Om saam met iemand te bly – veral in ’n klein ruimte – is ’n groot commitment. Jy trou basies met die persoon, want julle is die heeltyd in mekaar se ruimte. Jy moet maar daaraan gewoond raak as die ander een snork, en julle moet leer om met mekaar se irriterende gewoontes saam te leef.

Miskien vergeet die persoon gereeld om die toilet te spoel. Miskien is netheid of persoonlike higiëne nie sy/haar grootste prioriteit nie. Dalk los dié persoon gereeld vir jou ’n leë toiletrolletjie – wat jy gewoonlik eers té laat raaksien. Soms kry jy ’n snuifer, en later maak jy ’n speletjie daarvan om te tel hoeveel keer per minuut Jessica* snuif. Ek het ál die bogenoemde beleef – en nog meer. Dit mag dalk klink asof ek net melodramaties is, maar ek oordryf nie; ek belowe.

My eerste kamermaat was, natuurlik, my jonger boetie. Ons moes vir drie jaar – vandat ek drie jaar oud was – ’n kamer deel, en gelukkig onthou ek nie juis baie van dié tyd nie. As dié woonreëlings enigsins langer geduur het, sou dit dalk op ’n paar vuisgevegte uitgeloop het. Ek laat dit daar.

Ek is in graad 1 koshuis toe, wat nié die maklikste skuif is vir ’n sesjarige nie. Ná ek weke lank elke Sondagaand snot en trane gehuil het, soos ’n neet aan my arme ma vasgeklou het en ’n paar keer gedreig het om weg te loop, het ek stadig maar seker aangepas.

Dit het natuurlik gehelp dat my kamermaat al van babadae af my beste maatjie was. Nou, ná 23 jaar, is ons steeds baie geheg aan mekaar – al is ons so verskillend soos dag en nag. Natuurlik was daar kamermaat-komplikasies.

Negejariges kan stry kry oor die grootste onbenullighede, soos dat Jessica pousetyd voor jou by die ry ingedruk het. Daarna kan julle dit twee weke lank nie verduur om dieselfde suurstof in te asem nie – en trek sal daar getrek word. Sodra die strydbyl begrawe is en sy jou voor in die ry laat staan het, piekel jy weer al jou Bratz-poppe en Reënboogrant Maats-boeke terug na die ou kamer toe.

Om drie in ’n kamer te wees, gaan ook altyd gepaard met een of ander vorm van kamermaatpolitiek. Twee vorm ’n alliansie, en besluit om kwaad te wees vir die arme derde siel. Nugter weet hoekom. Arme nommer drie word vir ’n week of twee soos ’n melaatse behandel, tot die ander twee vergeet waarom hulle in die eerste plek kwaad was. Ek was al aan beide kante van dié situasie.

Fast forward ’n paar jaar na eerste jaar op universiteit, en ’n koshuiskamer wat omtrent so groot soos ’n skoenboks is en wat jy met ’n wild vreemdeling moet deel. Myne was al die pad van Gauteng, met ’n voorliefde vir rooi lipstiffie, two-minute-noodles en om nié haar bed op te maak nie. Ek is al as “obsessief-kompulsief” beskryf as dit kom by skoonmaak en netheid. As iemand visvingers in die mikrogolf gaarmaak (ek weet ook nie hoé of hoekom nie) en ’n lieflike gemors vir my los om skoon te maak terwyl sý vir die naweek huis toe is, kan jy seker verstaan hoekom ek dit nie as die ideale woonomstandighede beskou het nie. Ek het wraak geneem deur al die vuilgoed onder haar bed in te vee – en sy het dit nooit eens agtergekom nie!

My volgende “roomie” was een van dié wat ten alle tye die waaier moes aanhê – selfs in die koue Potch-winter. Dié SA kant van die kamer het altyd soos ’n rampsone gelyk en ek het altyd gewonder hoe sy ooit enige iets in haar kas kry. Daar was die gewone haakplekke soos wié nie hulle skottelgoedbeurt gehad het nie, wie nié die geiser aangesit het nie en wie al die groonboontjiebotter opgeëet het.

Ek sal nog báie gruwelstories kan vertel, maar uiteindelik is ek dankbaar vir al dié mense en dít wat ek saam met hulle beleef het. Tussendeur al die komplikasies het ek ook van my beste tye saam met hulle beleef. Ek het onlangs twee kamermaats (of is dit nou huismaats?) ryker geword: ’n kollega en ’n hasie genaamd Bollie. Ek is opgewonde om te sien wat volgende gebeur!

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer