Kameeta, DTA bring hulde aan Pretorius
Estelle de Bruyn - Die minister van armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, biskop Zephania Kameeta, het diepe medelye en simpatie betuig met die familie en naasbestaandes van mnr. Kosie Pretorius wat verlede Vrydag op Walvisbaai dood is.
“Ons was vriende. Ná onafhanklikwording was ek die adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering (NV) en daar het ek mnr. Pretorius leer ken. Ons was jare saam in die NV en ek het hom gerespekteer,” het Kameeta aan Republikein gesê.
“Hy het 'n bydrae gelewer tot die Namibië van vandag. Ons het geleer om na mekaar te luister, al het ons van mekaar verskil. As hy nie daar was en sy bydrae gelewer het nie, sou ons almal net in een rigting gedink het. Ons moes leer om ook te luister na menings waarvan ons verskil het.
“Een van die dinge wat hy graag gesê het, was 'vryheid sonder verantwoordelikheid is gevaarlik. Vryheid moet altyd met verantwoordelikheid gepaard gaan'. Ek weet nie of almal die waarde van daardie stelling verstaan het nie, maar ek het dit dadelik gesnap.
“Kosie het ook sy geestelike siening op 'n Bybelse grondslag gefundeer,” het Kameeta gesê.
Kameeta is met die totstandkoming van die Nasionale Vergadering gevra om 'n gebed te skryf waarmee sittings geopen kan word. Hy het Pretorius se raad gevra oor of hy die gebed godsdienstig-neutraal moes maak en of hy die naam van Jesus Christus in die gebed kon gebruik. Pretorius het hom aangeraai om dit in te sluit en sedertdien word NV-sittings met dié gebed geopen.
Kameeta is later uit die NV en het hom voltyds aan die kerk gewy.
“Toe ek in 2002 as biskop ingeseën is, het ek net twee mense genooi om dit by te woon – die huidige president, dr. Hage Geingob, en vir Kosie Pretorius. Hy het geduldig daar gesit vir die ses ure wat die seremonie geduur het,” het Kameeta vertel.
Hy is jammer dat hy nie geweet het Pretorius het op Walvisbaai afgetree nie, want hy was op die dag van Pretorius se dood op die dorp en sou graag persoonlik sy meegevoel aan die familie wou betuig.
In nog 'n huldeblyk het die sekretaris-generaal van die DTA, mnr. Manuel Ngaringombe, namens die party meegevoel betuig.
“Die geskiedenis van Namibië se oorgang van 'n Suid-Afrikaanse kolonie tot 'n onafhanklike staat is maar onlangs geskryf en baie oor gepraat.
“Ongeag watter mening 'n mens huldig, is een ding onbetwisbaar en dit is dat die ontslape mnr. Koos Pretorius in die middel van die lang en moeilike aanloop tot Namibië se onafhanklikwording was. 'n Ontleding van Namibië se geskiedenis toon Kosie, soos hy onder vriend en vyand bekend gestaan het, as een van die definieerbare karakters in Namibië se geskiedenis,” het Ngaringombe gesê.
“Hy was 'n toegewyde familieman. Dit is gepas dat Kosie die geleentheid gehad het om die laaste jare van sy lewe, ná sy aftrede uit die aktiewe politiek, met sy familie en vriende deur te bring. Dit is met hierdie kennis en herinneringe dat die familie berusting kan vind.”
Hy het gesê me. Drix Pretorius, die kinders en familie sal in die gebede van die DTA-familie in hierdie moeilike tye wees.
“Mag sy siel in vrede rus.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie