Kalkrand oorleef op druppels
Kalkrand oorleef op druppels

Kalkrand oorleef op druppels

Gerugte op die dorp is dat NamWater ’n foutiewe pomp met ’n kleiner pomp vervang het om druk op die plaaslike owerheid te plaas om hul skuld te delg.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die klein en arm gemeenskap van Kalkrand moet al bykans drie weke lank met net druppels water oor die weg kom nadat ’n pomp sowat 20 km van die dorp gebreek het. Die pomp voorsien water uit die Visrivier aan die dorp se reservoir.

Gerugte op die dorp is dat NamWater die foutiewe pomp met ’n kleiner pomp vervang het om druk op die plaaslike owerheid te plaas om hul skuld te delg.

Volgens dominee Düring Cornelius van die NG Kerk ly die Primêre Skool Kalkrand se koshuisleerlinge die ergste onder dié omstandighede. Sonder lopende water kan die toilette nie gespoel word nie en hul groentetuin wat groente aan die koshuis verskaf, kan nie natgelei word nie.

Dit het gister op die dorp gereën en dit het hoop vir die plante gebring, maar Cornelius is steeds bekommerd, want “kinders raak maklik siek,” sê hy.

Die skoolhoof, mnr. Stalin Skrywer, het die situasie gister aan Republikein bevestig en sê daar is geen watertoevoer na die skool toe nie.

“Ons probeer maar ons bes,” het hy gesê van skoolbeamptes se pogings om na die meer as 50 leerlinge in die koshuis om te sien.

Kalkrand se uitvoerende hoof, mnr. Ruben Sitanga, het ook die stand van sake bevestig. Hy sê die situasie duur nou al amper drie weke waar inwoners slegs tussen sewe in die oggend en agt saans water uit hul krane kan kry, en dan ook net ’n klein stroompie, en ook nie orals op die dorp nie.

“Buurmense help mekaar. Op die oomblik kry ons maar wat ons kry,” sê hy.

Sitanga sê hy is in gesprek met NamWater en het die versekering gegee die kwessie het niks met skuld te make nie. “Daar is net te min water in die reservoir, omdat die pomp nie werk soos dit moet nie,” het hy gesê.

Volgens hom het NamWater belowe hulle sal die situasie hanteer en sal ook alle vrae beantwoord.

Vrae wat al vroeg gister aan NamWater se amptelike woordvoerder, mnr. Johannes Shigwedha, gestuur is, was teen druktyd onbeantwoord, terwyl die NamWater-beampte verantwoordelik vir die betrokke gebied ook nie bereik kon word nie.
[email protected]

FOTO Nampa/ Argief

Kommentaar

Republikein 2026-03-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer