Kalf in put oor melk vir renosterwesie

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die kalf is in die spreekwoordelike put op ’n plaas in die Noordweste waar ’n ses maande oue renosterwesie so goed in haar nuwe omstandighede aansterk dat sy nou al 20 liter vetvrye langlewemelk per dag drink.

Klein Noelleen is Saterdag by die karkas van haar ma gevind toe aasvoëls in die lug werkers op die wildsplaas onraad laat vermoed het. Toe ondersoek ingestel word, het hulle op die karkas van die dooie witrenosterkoei afgekom.

Volgens die plaaseienaar, wie se identiteit nie onthul word nie om die renosters te beskerm, is sy beseer toe ’n renosterbul haar met sy horing in die sy gegaffel het.

“Gelukkig is sy nie gestroop nie, maar dit beteken steeds daar is ’n teelkoei minder.”

Die wildsveearts dr. Ulf Tubbesing en sy assistant, me. Mariska Bysterbos, is ontbied.

Hy het gister aan Republikein vertel Noelleen is met ’n verdowingspyl aan die slaap gemaak en vir die eerste paar dae in ’n sleepwa gehou om haar makliker te kan melk gee en aan mense gewoond te maak.

Hy sê sy is gister in ’n klein kampie op die plaas vrygelaat.

“Sy is baie gelukkig,” sê Tubbesing.

Volgens die eienaar benodig hulle “vetvrye langlewemelk vir Afrika” om haar groot te kry.

Sy sal binnekort 30 liter per dag benodig, wat beteken sy sal 900 bokse melk per maand drink.

Mense of instansies wat melk wil skenk, kan ’n e-pos stuur aan die Rhino Momma-projek by [email protected]

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer