Kalender 1 Desember

Nou aan die gang

» Tuuthikeni City Market, in vennootskap met City of Windhoek, bied met trots Kersfees 2017 in Onafhanklikheidsrylaan en Poststraat Mall aan. Dit vind vandag en môre plaas. Vandag sal Windhoek se burgemeester die stad se Kersliggies aanskakel, terwyl besoekers kan uitsien na baie vermaak wat onder meer kunsuitstallings, kookdemonstrasies, straatvertonings, kinderaktiwiteite en 'n verskeidenheid stalletjies insluit. Vandag se program begin om 13:00 en duur tot 22:00. Môre begin die verrigtinge om 08:00 en die kuier sal 22:00 eers eindig. Vir meer inligting, skakel 081 280 5621 of kontak [email protected].

» Vanaand gaan die Namibies-gebore sanger en komponis, Erna Chimu, haar finale vertoning vir vanjaar by die Hilton Kalabar lewer met oorspronklike liedjies van haar nuwe CD wat nog opgeneem word. Haar vertonings is veral gewild onder gehore wat aanklank vind by Namibiese of tradisionele Afrika-Khoe-musiek. Sam Batola op die kitaar, ’n volledige koor en Manneckey Khoe-Aob sorg vir 'n intieme omgewing wat perfek by Erna se unieke styl pas. Die konstert begin om 19:00 en geen onder agtiens word toegelaat nie.

» Die Warehouse-teater vier vandag sy vyfde verjaardag nadat hy in 2012 onder nuwe bestuur geopen het. Hul partytjie is getiteld Anniversary Bash. Die Namibiese rockgroep The Fate of Miss H sal dié groot viering om 20:00 laat afskop. Die Namibiese reggae-legende Ras Sheema sal daarna optree. Mashura sal sorg dat die res van die aand se vieringe met plaaslike gaskunstenaars gevier word. As deel van hul vyfde verjaardag het die Warehouse-teater die N$150 000 #rockthatcash-gelukstrekking bekend gestel. As jy ‘n kaartjie vir die Anniversary Bash koop, het jy ‘n kans om jou deel van die wengeld huis toe te vat. Besoek die Warehouse-teater se Facebook-blad vir meer inligting oor kaartjies en kompetisiereëls.



» Die Windhoek City Market sal die jaar op ’n hoogtepunt afsluit met hul Kersmark. Gaan geniet die #lastcitymark voor almal op vakansie laat spaander. Die stalletjies is perfek vir Kersinkopies. Goeie kos en wyn, klere, skoene, handsakke, dekor en baie ander lekkertes sal soos gewoonlik ook by die mark gevind kan word. Toegang is N$40 en vir kinders onder 16 is dit gratis. Kaartjies is by PayToday en Airtime City-kiosks beskikbaar en die mark open om 16:00. Moet dit nie misloop nie!



Dinsdag

» Die Namibië Wetenskaplike Vereniging en Gobabeb Navorsing- en Opleidingsentrum nooi jou hartlik uit na die vertoning van 'n dokumentêr: Namib – surviving the Sand Sea. Hierdie dokumentêr beeld die verskeie aanpassings van die flora en fauna uit wat in die Namibwoestyn voorkom. Die rolprentmaker het 'n jaar lank verskeie woestynorganismes by Gobabeb, 'n wetenskaplike navorsingstasie in die sentrale Namib, verfilm. Die dokumentêr ondersoek die Namib-duinmier, skerpioene, lnaras en Welwitschias, asook wat wetenskaplikes doen om hierdie unieke en ongelooflike organismes beter te verstaan. Die vertoning begin om 19:30 en die fliek is 50 minute lank.

» Petrus Amuthenu se uitstalling ter ere van die Oshiwambo-kultuur, My Heritage, word in die FNCC-galery vertoon. Die uitstalling begin om 08:00 en hou tot 13:00 aan. Toegang is gratis.

» Fotografiedosent Djunior Svane bied werkwinkels in digitale fotografie vir beginner- en gevorderde studente aan. Vir meer inligting, skakel Djunior by 081 245 2279.

Woensdag

» Drum Café Namibia, in samewerking met Joe's Beerhouse, bied elke Woensdag van 18:00 tot 19:00 ’n openbare tromslaansessie in die boma by Joe’s aan. Almal is welkom. ’n Beperkte aantal djembe-tromme word voorsien, maar entoesiastiese tromslaners word aangemoedig om hul eie tromme saam te bring. Die sessies is gratis, maar skenkings is welkom. Vir meer inligting, besoek “Ongoma trading as Drum Café Namibia” op Facebook, of hul webtuiste, www.ongoma.com of www.drumcafe.co.za./Namibia.php.

» Die Nasionale Kunsgalery van Namibië bied met trots Textiles and Textures aan. Die uitstalling bestaan uit ‘n versameling kunswerke uit die Namibia Arts Association en die Nasionale Kunsgalery se permanente uitstallings. Die uitgesoekte stukke is van belang weens hul gebruik van tekstiel of tekstuur. Ander kunstenaars se stukke sal ook vertoon word. Die uitstalling begin om 18:00 en gaan voort tot 5 Mei 2018.

Donderdag

» Die Jazz Etcetera-geleenthede by die Hilton se Kalabar vind elke Donderdag tussen 19:00 en 21:30 plaas en toegang is gratis. Die konserte is oop vir almal.

» Dit is weer tyd vir Unam se jaarlikse visuele kunstuitstalling. Hierdie uitstalling bestaan uit die werk van die derdejaar- en vierdejaardiplomastudente wat kursusse in bemarking, keramiek, mode, museumstudies en tekstiel doen. Hierdie is ‘n geleentheid vir kunsliefhebbers om Namibië se jong talent te ontdek. Die meesterstukke kan tot 7 Desember by die FNCC-galery bewonder word. Vir meer inligting, besoek die FNCC se Facebook-blad.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer