Kahimise weg, terug en weer weg
Kahimise weg, terug en weer weg

Kahimise weg, terug en weer weg

Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – Die Windhoekse munisipaliteit het sy uitvoerende hoof, mnr. Robert Kahimise, vir die tweede keer binne ‘n maand geskors.
‘n Dringende bestuursvergadering en ‘n spesiale stadsraadvergadering wat vir gister belê is, is uitgestel. Na verneem word, was ‘n waarnemende uitvoerende hoof veronderstel om tydens dié vergadering genomineer te word.

Maandag se skorsing volg net twee dae nadat Kahimise weer terug op sy pos was nadat die munisipaliteit moes toegee sy vorige skorsing, op 22 Oktober, was onwettig.

Kahimise is glo aanvanklik geskors sodat beweringe teen hom ondersoek kon word. Dié beweringe sluit in dat hy 'n onregmatige studielening van die munisipaliteit ontvang het.

Volgens Kahimise se prokureur, mnr. Patrick Kauta, gaan hy ‘n dringende aansoek in die hoërhof teen die tweede skorsing indien.

Kauta sê Kahimise is Maandag om 19:15 “sonder redes” van sy skorsing ingelig. Luidens ‘n brief wat deur die onderburgemeester van Windhoek, me. Teckla Uwanga, onderteken is, is Kahimise vir drie maande sonder vergoeding en voordele geskors. Dié besluit is tydens ‘n spesiale raadsvergadering Maandag geneem, aldus Uwanga.

Die brief het Kahimise opdrag gegee om al sy munisipale bates buiten sy selfoon aan die ondervoorsitter van die raad te oorhandig. Hy mag sy selfoon behou sodat hy bereikbaar is indien nodig, sê Uwanga in die brief.

Kahimise is voorts belet om die munisipale gebied van Windhoek sonder die goedkeuring van die ondervoorsitter te verlaat. Hy is die munisipaliteit se perseel verbied en mag nie met die bedrywighede van die stadsraad, personeel of moontlike getuies sonder die goedkeuring van die ondervoorsitter inmeng nie.

Kahimise is Vrydag per kennisgewing van die munisipaliteit se voorneme ingelig om hom te skors. Hiervolgens kon Kahimise Maandag deur ‘n voorlegging beswaar teen die skorsing aanteken. Volgens Kauta was dit onvoldoende tyd om só ‘n voorlegging voor te berei.

Drie lede van die opposisie – Brunhilde Cornelius (RDP), Josef Kauandenge (Nudo) en Ignatius Semba (PDM) - het opnuut beswaar gemaak teen die besluit om Kahimise te skors en het hulle van die besluitnemingsproses verskoon.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer