Kahimise se turf sit dalk
Kahimise se turf sit dalk

Kahimise se turf sit dalk

Die Windhoekse stadsraad en sy geskorste uitvoerende hoof klim vanoggend in die kryt.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die Windhoekse stadsraad (CoW) is van mening die klagtes teen sy uitvoerende hoof, mnr. Robert Kahimise, is só ernstig dat hy afgedank kan word.

Daarom, sê CoW by monde van sy adjunkburgemeester, me. Teckla Uwanga, is daar geen gronde vir dringendheid wat die geskorste Kahimise se hofeise betref nie.

Die partye kruis na verwagting vandag swaarde in die hoërhof in Windhoek, waartydens Kahimise wil hê hy moet heraangestel word.

In stukke, wat die afgelope dae by die hof geliasseer is, sê Uwanga die raad het besluit om Kahimise se salaris te betaal terwyl hy geskors is.

Dít kom nadat hy vroeër gekla het sonder sy maandelikse vergoeding staar hy bankrotskap in die gesig.

In elk geval, sê Uwanga, hét die dissiplinêre proses teen Kahimise reeds met sy skorsing afgeskop.

Eweneens, sê sy, dra Kahimise se beswaar oor die moontlike reputasieskade wat hy glo ly geen gewig nie.

Sy sê CoW het die reg om tugstappe teen hom in te stel.

“As daar enige stigma is, ontstaan dit weens die dissiplinêre stappe.”

Omdat Kahimise in ’n vertrouensposisie is en as uitvoerende hoof die plig het om te verseker die raad se besluite, aanvaarde beleid en strategieë word in werking gestel en uitgeoefen, is die ernstige wangedrag wat CoW glo hy begaan het, “soveel ernstiger”, lui die stukke.

“Die wangedrag, waaraan aan ons glo (Kahimise) skuldig is, sluit oneerlikheid in en ’n verontagsaming van die bepalings van die raad – die einste besluite en beleid wat hy ’n plig het om te beskerm en in werking te stel.”

Volgens Uwanga glo CoW Kahimise is skuldig aan die wanbesteding van openbare geld en ongemagtigde verskwisting “in dié ekonomies moeilike tye”.

Hy het glo die teenoorgestelde gedoen van dit wat van hom verwag is en “alles vir sy persoonlike gewin”.

Sy hou vol hy het nie magtiging gehad om bykans N$150 000 se studiehulp vir nagraadse studie in Parys, Frankryk, te ontvang nie.

“Na my mening is dit erg buitensporig en verkwistend. Die feit is die studiehulp is nie gemagtig deur die bestuurskomitee soos vereis nie.”

Hoewel hy hiervan bewus was, het hy voortgegaan om die private studiehulp te geniet.

Die pad wat Kahimise gestap het om die burgemeester, mnr. Muesee Kazapua, te kry om die lening goed te keur, was verkeerd en Kahimise het dit geweet, voer CoW aan.

Trouens, sê Uwanga, hulle het eers in Oktober hiervan bewus geword toe Kahimise hulle op ’n bestuursvergadering ingelig het hy is op pad Parys toe.

Hy sê herhaaldelik sy aansoek is goedgekeur terwyl dit nie die waarheid is nie, sê Uwanga.

Nadat hulle daarvan uitgevind het, het hulle wel na die versoek om hulp gekyk maar dit afgekeur, sê sy.

“Die benarde finansiële posisie van die land as ’n geheel is openbare kennis. Meer as ooit is dit nie nou die tyd vir onnodige, buitensporige, verkwistende besteding nie.”

Uwanga laat val dan ’n ander bom in haar beëdigde verklaring. Volgens haar het hulle rede om te glo Kahimise het die raad gekry om vir hom ’n Toyota Corolla vir sy persoonlike gebruik aan te skaf.

Hy het glo ’n CoW-werknemer ingespan as persoonlike drywer.

“Hy maak gebruik van die voertuig en ’n bestuurder vir sy persoonlike behoeftes.”

Sy sê hulle het hiervan uitgevind toe Kahimise glo die wiele aan die rol gesit het om die Corolla met ’n Fortuner te laat vervang.

“Dit moet teen die agtergrond gesien word dat, in sy eie weergawe, hy vier voertuie vir sy eie gebruik het.”

Kahimise het gistermiddag by navraag aan Republikein gesê wat hom betref gaan vanoggend se hofverrigtinge voort.

Op ’n vraag of dit waar is dat hy voortaan sy maandelikse salaris sal ontvang, sê hy: “Dit is vir die hof om môre (vandag) te besluit.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer