Kahimise su00ea skorsing sal hom knak
Kahimise su00ea skorsing sal hom knak

Kahimise sê skorsing sal hom knak

Denver Kisting
Denver Kisting - Indien hy nie sy salaris kry terwyl hy geskors is nie, sal die uitgawes van amper N$82 000 wat hy maandeliks daarmee betaal, hom knak.

Só lui die beëdigde verklaring van die geskorste uitvoerende hoof van die Windhoekse stadsraad (CoW), mnr. Robert Kahimise.

Volgens hom staar hy bankrot­skap in die gesig as dié voorwaarde nie dadelik opgehef word nie.

“Ek is tans sonder besoldiging geskors. Ek het verskeie finan­siële verpligtinge, waarvoor ek met my maandelikse salaris betaal,” sê hy.

Onder meer help finansier sy maandelikse CoW-salaris die verband op sy huis in Pioniers­park in Windhoek ten bedrae van bykans N$38 000 en sy plaas, Leeulaagte.

Sy maandelikse salaristjek moet ook pa staan vir twee oortrokke rekeninge by twee kommer­siële banke.

Hiernaas, sê Kahimise, moet hy ook maandeliks die paaiemente op voertuie uit sy salaris betaal.

Dié rygoed sluit 'n Volvo S40, 'n Toyota Legend 45, Mercedes-Benz ML 350 en 'n Land Cruiser in.



ander uitgawes

Kahimise sê voorts hy betaal ook die maandeliks lone vir sy plaaswerkers uit sy maandelikse salaris. Dit jaag hom N$7 000 uit die sak – N$1 000 meer as die N$6 000 wat hy maandeliks op water, elektrisiteit en ander heffings bestee.

Skoolfonds kos hom maandeliks N$5 500, terwyl hy N$3 500 vir kruideniersware betaal.

Hy sê verder: “Sonder my maandelikse salaris sal ek nie my finansiële verpligtinge kan nakom nie, wat spruit uit ooreenkomste tussen my en derde partye.”

As die situasie nie verander nie, sal hy in alle waarskynlikheid agterstallig raak en insolvent verklaar moet word, sê hy.

In sommige gevalle loop hy die risiko om voordele te verbeur of selfs bates te verloor weens wanbetaling, waarsku hy.

Een van die gevolge wat die huidige omstandighede kan meebring, is dat hy nie die maandelikse terugbetaling van N$8 166 aan CoW sal kan eerbiedig nie.

Dié terugbetaling is die spilpunt waarom sy skorsing draai.

Hy het na bewering geen regmatige goedkeuring gehad vir die ­studielening van ongeveer N$150 000 om sy doktorale studie aan 'n Franse universiteit op te neem nie, beweer CoW.

Kahimise hou vol dié lening en die gepaardgaande studieverlof is wel goedgekeur.

CoW het intussen deur sy prokureur, mnr. Gabriel Köpplinger, laat weet hy gaan Kahimise se aansoek volgende week in die hoërhof teenstaan.

Kahimise vra dat hy dadelik weer in sy pos as uitvoerende hoof aangestel word.

Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, dr. Peya Mushelenga, het verlede week ontken Kahimise is vir 'n tweede keer geskors.

Mushelenga het toe by navraag gesê verlede Maandag se verwikkelinge is “geen tweede skorsing nie”.

Ál wat gebeur het, is dat 'n brief ­reggestel is, het Mushelenga aangevoer. “Daar is geen tweede skorsing nie. Slegs 'n verkeerdelik bewoorde brief is teruggetrek; vervang met 'n korrek bewoorde brief.”

Mushelenga is een van 13 partye wat Kahimise in die aansoek dagvaar.

Naas tien raadslede is die ander die arbeidskommissaris en CoW.

CoW het verlede week by monde van sy adjunkburgemeester, me. Teckla Tala Uwanga, aangekondig mnr. Ludwig Narib neem tans waar as tussentydse uitvoerende hoof by dié beleërde munisipaliteit.

Narib is die strategiese uitvoerende hoof gelas met infrastruktuur, water en tegniese dienste

Kahimise word deur mnr. Patrick Kauta van Dr. Weder, Kauta & Hoveka Inc. verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer