Kabinet sê ja vir plan met biobrandstof
Francois Williams
Die kabinet het uiteindelik, ná jare se gesloer, die reguleringsraamwerk vir biobrandstof goedgekeur.
Dit sal die regering toelaat om sy biobrandstof-nywerheidstrategie toe te pas.
Die raamwerk gee riglyne oor watter plantmateriaal vir die produksie van biobrandstof gebruik mag word om te keer dat die biobrandstofbedryf voedselsekerheid bedreig.
Dit is omdat mielies en suikerriet gebruik kan word vir die maak van bio-etanol, en gewasse soos sojabone en kanola gebruik kan word om biodiesel te maak.
Die raamwerk sal ook regulasies bied oor die verpligte byvoeging van sekere hoeveelhede biobrandstof by konvensionele brandstof om 'n vaste vraag vir biobrandstof te skep, en sal inligting gee oor hoe die koste vir die byvoeging verhaal kan word.
'n Subsidieskema word oorweeg om boere en vervaardigers te steun wat biobrandstof wil kweek en vervaardig.
Die raamwerk sal ook die kriteria verskaf op grond waarvan biobrandstofprojekte vir subsidies aansoek kan doen.
Biobrandstof is bedoel om te help om kweekhuisgasvrystellings te verminder, deur minder fossielbrandstof te gebruik wat van olie, steenkool en aardgas gemaak word.
Die biobrandstofraamwerk was al teen 2014 opgestel. Teen Oktober verlede jaar het Jeff Radebe, vorige minister van energie, nog belowe dat die kabinet die raamwerk teen Maart vanjaar sal goedkeur. Dit het egter nóú eers gebeur by die kabinet se vergadering verlede week.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie