Kabila se isolasie verdiep
Kabila se isolasie verdiep

Kabila se isolasie verdiep

‘n Verandering in gesindheid in Angola se betrekkinge met sy jarelange bondgenoot, die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK), het die DRK se president, Joseph Kabila, meer geïsoleer as ooit gelaat terwyl hy aan die mag klou.
NAMPA
Angola, ‘n streek- en militêre swaargewig, het by verskeie geleenthede noodsaaklike steun aan pres. Joseph Kabila verleen, wat die bewind van die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) oorgeneem het toe sy pa, Laurent Desirée Kabila in 2001 in ‘n sluipmoordaanval dood is.

Luanda is egter nou gefrustreerd deur die manier waarop Kabila verskeie krisisse hanteer. Dit sluit die feit in dat hy geweier het om opsy te staan toe sy mandaat as president verlede Desember ten einde geloop het asook ‘n konflik wat meegebring het dat vlugtelinge oor die land se grens na Angola stroom.

In Desember het Angola militêre opleiers onttrek, wat na die DRK gestuur is, waar oorloë met die draai van die eeu die lewens van miljoene mense geëis het en buurlande (waaronder Namibië) by ingesleep is.

Dié besluit het die twyfel laat ontstaan of Luanda weer ‘n reddingsboei na Kabila sal gooi. Die verandering in gesindheid in Luanda dui ook op ‘n verandering in die streek se magspolitiek.

Angola se minister van buitelandse sake, Georges Chikoti, het dit in Mei duidelik gemaak dat sy land se geduld opraak na ‘n verklaring deur die DRK dat die konflik in die Kasai-streek, wat aan Angola grens, na etlike maande opgeklaar is.

"Aan die een kant word ons meegedeel dat die opvolgkwessie in die koninkryk van Kasai besleg is, en aan die ander kant sien ons steeds mense wat in Angola aankom en sleg behandel is,” het hy aan die Franse uitsaaier, RFI gesê.

Chikoti het ook oproepe vir ‘n internasionale ondersoek na die dood van twee ondersoekbeamptes van die Verenigde Nasies (VN) gesteun, ‘n stap wat deur Kinshasa verwerp is.

‘n Meer regstreekse uitdaging het van Sindika Dokolo, ‘n Kongolese sakeman en kunsversamelaar gekom, wat met die miljardêr dogter van pres. Jose Eduardo dos Santos getroud is.

Waar hy in die verlede weggebly het van die nasionale politiek, het Dokolo in onlangse weke op Twitter en in onderhoude na Kabila gekap en vergelykings getref tussen Kabila en die oud-Kongolese diktator, Mobutu Sese Seko se bewind.

"Ons onderskat die Kongo se vermoë om die streek te destabiliseer. Hulle speel met vuurhoutjies bo-op ‘n balie plofstof en dit bekommer my,” het hy aan Reuters gesê.

Angola het in die verlede ook verskille met die DRK gehad oor hul maritieme grens, mededingende aansprake op aflandige olie en die uitskop van tienduisende Kongolese diamantmyners uit Angola meer as ‘n dekade gelede. Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer