Kabaret plaas kollig op alzheimers

Yandi Du Plessis
4U Events het besluit om vanjaar 'n projek ten bate van 'n baie spesiale doel aan te pak: Alzheimers.

Dié siekte geniet nog te min aandag, glo hulle. Esther Badenhorst werk al 15 jaar aan die projek, Carpe Diem, en 4U het dit goedgedink om haar projek hul eie te maak en geld in te samel.

Hulle beoog om N$1,5 miljoen in te samel om grond te koop om 'n sorgsentrum vir mense met Alzheimer se siekte te bou.

“Ons hoofdoelwit is om die beste sorg moontlik so goedkoop as moontlik vir die pasiënte te maak.” Dié bedrag moet voor Desember vanjaar ingesamel word.

“Hoewel dit 'n uitdaging is, lê die projek ons na aan die hart.”

Die projek behels 'n reeks kabaretkonserte wat landswyd by verskillende venues aangebied word. Hulle het reeds twee agter die rug, wat glo baie goed ontvang is.

Op 24 April en 15 Mei hou 4U konserte by Vintage Coffee Shop in Windhoek. Albei aande sal om 18:00 afskop en kaartjies is teen N$50 beskikbaar.

Grootfontein lê daarna voor. Van 28 tot 30 Mei kuier die 4U-span saam met Elsie en Tallulah saam met hul ouma Patricia op die Kalkfontein-gasteplaas. Nie net samel hulle geld in vir alzheimers nie, maar gee ook vir die publiek kans om 'n geldjie te maak. Hulle verkoop stalletjies teen N$250, en die wins is natuurlik jou eie. Die N$250 gaan aan die alzheimersfonds.

Die span is ook hard aan die werk om in Desember 'n toer na Suid-Afrika te reël.



'Moet nooit vergeet om te lewe'

“Ons is so dankbaar vir elke persoon in die land wat al betrokke geraak het. Soveel mense sê hulle kan nie geld gee nie, maar hulle kan tyd en kontakte gee wat elke geleentheid laat groei. Woorde kan nie beskryf hoe dankbaar ons is nie, want die projek raak nou baie groter as wat ons ooit kon dink.”

“Ons nooi alles en almal uit om ons geleenthede en vertonings by te woon. Jy kan beslis weet jy gaan lekker lag, huil en met 'n goeie boodskap huis toe gaan. Alzheimers begin die dag as ons vergeet wie ons is, vergeet om te lewe en vergeet om te droom. Mag dit die begin van 'n mooi verhaal wees wat ons leer om daar te wees vir diegene wat nie meer daar vir hulself kan wees nie.”

Om 'n stalletjie vir die Grootfontein-naweek te bespreek, skakel 081 225 7441/3. Vir enige navrae, stuur 'n e-pos na [email protected].

Kommentaar

Republikein 2025-05-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer