Jy sal dit nie kan neersit
Jy sal dit nie kan neersit

Jy sal dit nie kan neersit

Lloyd Zandberg
Wilbur Smith doen dit weer!

Of liewer: Wilbur doen dit steeds. Smith het When the ­Lion Feeds (1964) elke jaar opgevolg met nóg 'n testosteroonbom vol wreedaardige geweld, liefdelose seks, booswigte wat hul gatte sál sien en rateltaai helde wat nie met 'n ysterpyp doodgeslaan kan word nie maar wie se harte altyd deur fraaie amasones vermurwe word.

Met dié dat Smith lank in die tand begin word, het hy die bystand van hulpskrywers ingeroep. Of dié menere se bydrae beperk is tot naslaanwerk en die aandra van bekers koffie en of hulle daadwerklik saam skryf, weet ons nie, maar dalk laat geweld en grenslose ge­wetenloosheid hulle lighoofdig voel. Pharaoh (2015) en War Cry (2016) het ondersteuners teleurgestel omdat daar so min in Donker Afrika (War Cry) en die her­besoek aan die antieke Egiptenare (Pharaoh) gebéúr het: Die moord en doodslag was effentjies.

Dié jaar se aanbieding, The Tiger's Prey, vergoed ruimskoots met kwalik twee opeenvolgende bladsye waarop daar nié 'n meer as lewensgroot karakter in 'n tweegeveg, skermutseling of oorlog in die kleine afgemaai word nie. Smith is terug, met mening, en Tom Harper, hierdie jaar se Hansie-my-kneg, skrik – soos die meester self – nie vir bloed en derms nie.

Tussen die buskruitwolke en bloedvergieting deur doen die Courtney-amasones ook presies wat van hulle verwag word.

Die Courtneys, daardie onuitwisbare familie wat die helde en heldinne vir soveel van Smith se romans opgelewer het, is nader gehark. En soos in Birds of Prey en Monsoon, speel The Tiger's Prey grootliks op die oop see van drie of vier eeue gelede af. Afgesien van 'n Kaapse draai en 'n heen-en-weertjie Engeland toe, neem The Tiger's Prey ons na die kuslyn

van Indië, met seerowers wat beïndruk met hul bloeddorstigheid

en skelmstreke.

Die narratief word gedryf deur “goeie” Courtneys en “slegte” Courtneys wat mekaar probeer uitoorlê. Francis Courtney, 'n jong loot, se stiefpa pleeg selfmoord; Francis reis Kaapstad toe nadat hy 'n gat in die kop gepraat word om sy oom, Tom Courtney, van die gras af te maak. Dié sluipmoord loop skeef, Francis sien die lig en snoer kragte saam met Tom en dié se broer, Dorian.

Tom en Francis raak in Indië slaags met Guy, Tom se tweelingbroer. Nóg 'n wilde Courtney-loot, Christopher, raak die kluts kwyt en saai verskrikking – én sy wilde hawer – so ver hy gaan.

Tussen die buskruitwolke en bloedvergieting deur doen die Courtney-amasones ook presies wat van hulle verwag word.

Span jou siekteverlof in en sonder jou af waar vriend, vyand of familie jou nie kan steur nie: Dié boek is meer as 400 bladsye lank. En jy gaan vir hom lees tótdat hy klaar is.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer