Juniors mik na geskiedenisboeke

Die o.20's sal volgende maand hul groep by die Afcon-toernooi moet wen om vir die Wêreldbeker te kwalifiseer.
NAMPA
Nadat Namibië se Jong Warriors verlede maand in Port Elizabeth vir die eerste keer vir die o.20 Afrika-Nasiesbeker (Afcon) gekwalifiseer het, word nou selfs meer aggressiewe doelwitte verklaar.

Die span se hoofafrigter, James Britz, sê hulle gaan streef om volgende maand by die Afcon-toernooi in Mauritanië vir die o.20-Wêreldbeker te kwalifiseer.

Britz sê die Jong Warriors se groep B waar hulle saam met Burkina Faso, Tunisië en Sentraal-Afrikaanse Republiek geplaas is, het potensieel sterk teenstanders.

Die Konfederasie van Afrika-sokker (CAF) het Maandag in Yaounde, Kameroen, die loting gehou.

Volgens Britz het hy reeds beeldmateriaal van Tunisië en Burkina Faso onder oë gehad om te sien hoe hulle speel. Tot dusver kon hy egter nog niks van die Sentraal-Afrikaanse Republiek opspoor nie.

“Ons gaan nie Mauritanië toe om basies net die vierde span in groep B te wees nie. Die Jong Warriors is gereed om kompeterend te wees, want ons het nie per ongeluk in die Cosafa-finaal in Port Elizabeth beland en vir die Afcon-toernooi gekwalifiseer nie. Namibië verdien om daar te wees.”

Volgens CAF-reëls sal net die topvier lande by die kontinentale toernooi in Mauritanië vir die o.20-Wêreldbeker kwalifiseer. Dus sal die Jong Warriors groep B moet wen.

“Ons wil nie praatjies maak nie, maar om vir die o.20-Wêreldbeker te kwalifiseer, is reeds deur die afrigtingspan en die spelers bespreek. Die spelers is dit eens dat ons hieroor saamstem. Ons is 'n hegte eenheid en as jy dieselfde visie deel, is die saak halfpad gewonne,” het Britz entoesiasties gesê.

Franco Cosmos, sekretaris-generaal van die Namibiese Sokkervereniging (NFA), sê die Jong Warriors het reeds geskiedenis gemaak toe hulle vir die Afcon-finaal gekwalifiseer het.

“Ons onder 20-span mik vir glorie en dit is om vir die Wêreldbeker te kwalifiseer. Ons mik hoog om opnuut geskiedenis te maak. As dit nie realiseer nie, sal ons terugkeer en vir die volgende uitdaging voorberei,” het Cosmos gesê.

Die Afcon-eindtoernooi vind van 14 Februarie tot 6 Maart plaas.

Namibië het gekwalifiseer toe hy by Desember 2020 se Cosafa-toernooi die eindstryd gehaal het. Ondanks onvoldoende voorbereiding het Britz se jongmanne die semifinaal gehaal en Angola met 1-0 geklop, voordat hulle in die eindstryd met 0-1 deur Mosambiek gestuit is.
– Nampa

Kommentaar

Republikein 2026-06-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer