Junior week bied gulde geleentheid
Junior week bied gulde geleentheid

Junior week bied gulde geleentheid

Krieket
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Krieket Namibië bied aanstaande week van Maandag tot Donderdag ’n nasionale ontwikkelingsweek vir sy jeugspanne aan waar o.11-, o.13-, o.16- en o.19-spelers kans kry om hul vlak van gereedheid vir groter dinge te beproef.

In elke ouderdomsgroep ding vier streekspanne op ’n rondomtaliegrondslag in die 50-beurtformaat mee. Noorde, Sentraal en Kus het elk ’n span in elke ouderdomsgroep, asook Suide/Ooste wat gekombineer is.

Die o.13-seuns sal in Walvisbaai by die Sparta-sportklub speel, terwyl die res van die ouderdomsgroepe in die hoofstad by die velde van Affiespark en Wanderers (o.19), WHS Vegkop en United (o.16), Doc Jubber en CCD Tigers (o.11) sal kragte meet. Wedstryde begin daagliks om 09:00.

Die wenners in elke groep asook naaswenners sal medaljes ontvang en die wenspanne ’n wisseltrofee om volgende jaar te verdedig. Die voorste bouler en kolwer in elke ouderdomsgroep sal Donderdag by die afsluitingseremonies by Wanderers in Pionierspark en by Walvisbaai Primêre Skool aangewys word. Om die kroon te span, word die nasionale span vir elke ouderdomsgroep gekies en aangekondig.

Krieket Namibië sê: “Ons wil elke kind geleentheid gee om krieket te speel. Krieket Namibië se visie is om strukture saam te stel om gelyke geleenthede vir elke kind te bied wat regverdig en deursigtig vir alle partye is.

“Met die geweldige afstande en goeie blootstelling vir ons skolespelers in ag geneem, moet ons proewe daarop gerig wees om meer geleenthede vir deelname in mededingende wedstryde te reël. Ongeag waar spelers hulle bevind, mag nie teen hulle gediskrimineer word nie, en daarom is die nasionale week begin.”

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer